YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 19

19
Oorlog teen die Ammoniete en die Arameërs
(Ook 2 Sam 10:1-11; 12:26-31)
1Koning Nagas van die Ammoniete het gesterf, en sy seun Ganun het koning geword ná hom. 2Dawid het gedink: Nagas was 'n vriend van my, ek wil ook 'n vriend wees van sy seun Ganun.
Dawid het toe amptenare gestuur om vir Ganun te sê dat hy saam met hom hartseer voel omdat sy pa dood is. Maar toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete by Ganun kom om vir hom te sê dat Dawid saam met hom hartseer voel, 3het die leiers van die Ammoniete vir Ganun gesê: “Wat dink jy, hoekom het hierdie amptenare na ons toe gekom? Dink jy Dawid het jou pa gerespekteer en daarom het hy mense na jou toe gestuur om vir jou te sê dat hy hartseer voel saam met jou? Nee, ons dink sy amptenare het gekom net om oral in die land te kyk en om planne te maak hoe hulle die stad kan aanval en verwoes.”
4Toe neem Ganun die amptenare van Dawid en hy laat hulle baarde afskeer. Hy het ook hulle klere laat afsny by hulle heupe, en toe het hy hulle laat gaan. 5Die manne het gegaan, maar hulle het baie verneder gevoel. Toe Dawid hoor wat met die manne gebeur het, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet en vir hulle te sê dat hulle in Jerigo moet bly totdat hulle baarde weer gegroei het, daarna kan hulle terugkom. 6Die Ammoniete het besef dat Dawid kwaad is vir hulle. Ganun en die Ammoniete het 1 000 talente silwer gestuur om manne op oorlogkarre en perde te huur om vir hulle te kom help, manne van die Arameërs van Mesopotamië, en die Arameërs van die stede Maäka en Soba. 7Die Ammoniete het 32 000 oorlogkarre gehuur, en hulle het ook die koning van Maäka en sy manne betaal om vir hulle te kom help. Die koning van Maäka en sy manne het gekom en hulle het hulle tente opgeslaan naby die stad Medeba, en die Ammoniete het uit hulle stede bymekaargekom om oorlog te maak. 8Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab en al sy manne gestuur, manne wat goed oorlog kon maak. 9Die Ammoniete het uitgekom en hulle het gereedgestaan voor die poort van hulle stad. Die konings wat vir hulle kom help het, het op 'n ander plek in die veld gestaan. 10Joab het gesien hy sal op twee plekke oorlog moet maak. Hy het van die beste manne van Israel gekies en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Arameërs te veg. 11Hy het die ander manne vir sy broer Abisai gegee en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Ammoniete te veg. 12Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, dan moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, dan sal ek jou kom help. 13Jy moet dapper wees, en ons sal ook dapper wees en goed veg vir ons volk en vir die stede van ons God. Die Here sal laat gebeur wat Hy wil hê.”
14Joab en sy manne het toe begin om oorlog te maak teen die Arameërs, en die Arameërs het gevlug vir hom. 15Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook weggevlug van Abisai en hulle het ingegaan in hulle eie stad. Joab het toe teruggegaan na Jerusalem. 16Die Arameërs het besef dat die Israeliete hulle oorwin het. Hulle het boodskappers gestuur en hulle het die Arameërs laat kom wat anderkant die Eufraat-rivier gewoon het. Sofak, die hoof van die leër van Hadad-Eser, het hulle gelei. 17Dawid het dit gehoor, en hy het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het oor die Jordaan-rivier gegaan en toe hy by die Arameërs kom, het hy gereedgemaak vir die oorlog. Toe hy dit doen, het die Arameërs teen hom oorlog begin maak. 18Maar die Arameërs het weggevlug van Dawid. Dawid het die manne wat op 7 000 oorlogkarre was en 40 000 voetsoldate doodgemaak. Hulle het vir Sofak, die hoof van die leër, ook doodgemaak. 19Hadad-Eser het regeer oor 'n paar konings, en toe hulle sien dat die Israeliete hulle gewen het in die oorlog, het hulle vrede gemaak met Dawid. Dawid het van toe af oor die Arameërs regeer. Die Arameërs wou nie weer die Ammoniete help nie.

Currently Selected:

1 Kronieke 19: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy