YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 18

18
Dawid maak oorlog
(Ook 2 Sam 8:1-14)
1Later het Dawid die Filistyne heeltemal oorwin. Hy het die stad Gat vir hom gevat en ook die dorpe daar naby wat aan die Filistyne behoort het. 2Dawid het ook die Moabiete oorwin. Die Moabiete moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom.
3Dawid het na die Eufraat-rivier gegaan om sy gedenksteen weer regop te sit. Hy het vir Hadad-Eser seun van Regob oorwin. Hadad-Eser was die koning van die land Soba naby die stad Hamat. 4Dawid het 1 000 oorlogkarre, 7 000 manne op perde en 20 000 voetsoldate van Hadad-Eser gevat. Dawid het al die perde se hakskene laat sny, die perde wat die oorlogkarre getrek het. Hy het net genoeg perde laat oorbly om 100 oorlogkarre te trek. 5Die Arameërs van Damaskus het gekom om vir Hadad-Eser koning van Soba te help, maar Dawid het hulle oorwin en hy het 20 000 van hulle manne doodgemaak. 6Dawid het manne by die Arameërs van Damaskus laat bly om wag te staan. Die Arameërs moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.
7Die amptenare van Hadad-Eser het goue skilde gedra. Dawid het die skilde gevat en hy het dit na Jerusalem gebring. 8Dawid het baie brons gebring uit Tibgat en Kun. Dit was twee stede van Hadad-Eser. Salomo het daardie brons gebruik en hy het die waterbak, die pilare en die brons gereedskap laat maak. 9Koning Toü van Hamat het gehoor dat Dawid vir Hadad-Eser koning van Soba oorwin het. 10Daarom het Toü sy seun Hadoram gestuur om koning Dawid te groet en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak het en hom oorwin het. Daar was voorheen baie maal oorlog tussen Toü en Hadad-Eser. Hadoram moes ook vir Dawid presente van goud, silwer en brons bring. 11Koning Dawid het hierdie presente ook aan die Here gewy. Dawid het voorheen ook die silwer en die goud gewy wat hy van die ander volke gevat het en na sy land gebring het. Hy het dit gevat van die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete.
12Abisai seun van Seruja het 18 000 Edomiete in die Sout-vallei oorwin. 13Hy het manne by die Edomiete laat bly om wag te staan, en al die Edomiete moes vir Dawid werk. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.
Dawid se amptenare
(Ook 2 Sam 8:15-18)
14Dawid was koning oor al die Israeliete. Hy het reg en goed gedoen aan al sy mense. 15Joab seun van Seruja was die hoof van die leër, Josafat seun van Agilud was die hoof van al die amptenare, 16Sadok seun van Agitub en Abimelek seun van Abjatar was die priesters en Sausa was die sekretaris. 17Benaja seun van Jojada was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas. Die ouer seuns van Dawid het die koning gehelp.

Currently Selected:

1 Kronieke 18: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy