YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 10

10
Saul sterf
(Ook 1 Sam 31:1-13)
1Die Filistyne het oorlog gemaak teen die Israeliete. Die manne van Israel het gevlug vir die Filistyne, en die Filistyne het baie Israeliete doodgemaak op Gilboa-berg. 2Die Filistyne het ook teen Saul en sy seuns geveg en hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malki-Sua gevang en doodgemaak. 3Daarna het die Filistyne vir Saul aangeval, die Filistyne wat met pyl en boog skiet, en Saul het baie bang geword vir hulle. 4Hy het vir sy wapendraer gesê: “Jy moet jou swaard neem en jy moet my doodsteek. Ek wil nie hê hierdie heidene moet my kom doodsteek en vir my lag nie.”
Maar sy wapendraer wou dit nie doen nie, hy was bang. Toe neem Saul self sy swaard en hy val daarop. Die swaard het deur hom gesteek. 5Toe die wapendraer sien dat Saul dood is, het hy ook op sy swaard geval en hy het saam met Saul gesterf. 6So het Saul en sy drie seuns, al sy seuns, saam gesterf. 7En toe die mense van Israel wat in die vallei was, hoor dat die manne van Israel gevlug het en dat Saul dood is, het hulle uit hulle stede gevlug. Die Filistyne het toe gekom en hulle het in daardie stede gaan woon. 8Die Filistyne het die volgende dag gekom om die goed en die klere van die dooie mense te vat, en hulle het vir Saul en sy drie seuns op Gilboa-berg gekry, Saul en sy seuns was dood. 9Hulle het Saul se goed en sy klere gevat, sy kop afgekap en sy wapens in Filistyne-land rondgestuur om die goeie nuus te bring in die tempels van hulle afgode en vir hulle mense. 10Hulle het Saul se wapens in hulle tempel gesit en hulle het sy kop in die tempel van hulle god Dagon opgehang. 11Toe al die mense van die stad Jabes in die land Gilead hoor wat die Filistyne alles met Saul gedoen het, 12het al die belangrike manne gereedgemaak en hulle het Saul en sy seuns se lyke geneem en hulle het dit na Jabes gebring. Hulle het die bene onder die groot boom by Jabes begrawe. Daarna het hulle sewe dae lank gevas. 13Saul het gesterf omdat hy ontrou was aan die Here. Hy het nie gedoen wat die Here vir hom gesê het nie en hy het vir 'n gees gaan vra wat hy moet doen. 14Hy het nie vir die Here gevra nie. Daarom het die Here vir Saul laat sterf en het Hy vir Dawid seun van Isai koning laat word.

Currently Selected:

1 Kronieke 10: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy