YouVersion Logo
Search Icon

JOB 1

1
Inleiding
1Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie. 2Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. 3Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing.
4Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink. 5Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen.
Job se eerste toets
6Eendag het die hemelwesens#1:6 Grondteks seuns van God. voor die Here kom staan. Die aanklaer was tussen hulle. 7“Waar was jy heeltyd?” vra die Here vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die Here: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”
8Die Here vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.”
9Die aanklaer sê toe vir die Here: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen! 10U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy! 11Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!”
12“Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.
13Eendag het Job se seuns en dogters by hulle oudste broer se huis geëet en wyn gedrink. 14Daar kom toe ’n boodskapper by Job se huis aan met die nuus: “Ons was aan’t ploeg met die osse, en die donkies het ook daar rond gewei. 15Toe oorval skurke ons uit Skeba. Hulle het al die diere gesteel en al die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat kon wegkom om dit vir u te vertel.”
16Hy was nog besig met dié droewige verhaal toe ’n ander man by Job aankom met die nuus: “Weerlig het van God af uit die hemel geslaan#1:16 Grondteks Vuur van God het uit die hemel geval. en al u skape en al die skaapwagters doodgeslaan. Ek is die enigste een wat oorleef het om dit vir u te vertel.”
17Hy was nog besig om te praat toe ’n derde boodskapper by Job aangehardloop kom met die nuus: “Drie groepe Galdese rowers het al u kamele gesteel. Hulle het ook al u werkers doodgemaak. Ek is die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”
18Hy was nog besig om vir Job van die tragedie te vertel toe nog ’n boodskapper met die nuus kom: “U seuns en dogters het partytjie gehou in die huis van hulle oudste broer. 19Skielik was daar ’n baie sterk wind wat van die woestyn se kant af gewaai het. Dit het die huis van alle kante getref, en die huis het inmekaargeval. Al u kinders is op slag dood. Ek was die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”
20Job het toe opgestaan. Hy het sy klere stukkend geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond voor God geval. 21Hy het gesê:
“Naak het ek
uit my ma se skoot gekom,
en naak sal ek weer wees
die dag wanneer ek doodgaan.
Die Here het my alles gegee
wat ek gehad het,
en nou het Hy dit alles weggeneem.
Prys die Naam van die Here!”
22In alles wat gebeur het, het Job nie gesondig nie en God nie verwyt nie.

Currently Selected:

JOB 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy