YouVersion Logo
Search Icon

JOB 6

6
Job praat ’n tweede keer
1Job het weer gepraat:
2“As my hartseer geweeg kon
word
en my moeilikheid op ’n skaal
gesit word,
3sou dit swaarder weeg
as al die sand van die see.
Daarom het ek blindweg
gepraat.
4Want die Almagtige
het my met sy pyle getref.
Sy gifpyle het ingedring
tot diep in my gees.
Al die verskrikkinge van God
is teen my gerig.
5Wildedonkies balk
as hulle geen groen gras
kry nie,
en beeste bulk
as daar nie voer is nie.
6Eet ’n mens smaaklose kos
sonder sout,
of iets so smaakloos
soos die wit van ’n eier?
7My eetlus verdwyn
as ek dit sien.
Ek word naar
as ek dit moet eet.
8Ag, as my versoek
maar toegestaan word
dat God sal gee
waarvoor ek hoop!
9As Hy my maar wil uitwis,
sy hand uitsteek
en my vernietig,
10dan sou dit my troos wees:
dat ek ten spyte van my pyn
ook vreugde sal hê
dat ek die woorde
van die Heilige
nie ontken het nie.
11“Ek het nie die krag
om aan te gaan nie.
Ek het geen doel
om voor te lewe nie.
12Is ek so sterk soos klip,
en is my lyf van brons
gemaak?
13Nee, ek is hulpeloos.
Daar is geen kans
dat ek kan slaag nie.
14“’n Mens sou medelye hê
met ’n vriend in nood,
selfs as hy die vrees vir die Almagtige
laat vaar.
15My vriend, jy is
so onbetroubaar
soos ’n spruit wat in die lente
sy walle oorstroom,
16vol met ys en sneeu wat smelt.
17Maar die water droog op
in die hitte
en die spruit verdwyn
wanneer dit warm word.
18Reisigers draai af na die spruit
vir lafenis,
en hulle sterf in die woestyn
waarheen hulle afgedraai het.
19Met groot verwagting
kom reisigers
van Tema en Skeba
op soek na water.
20Maar hulle kry niks
al het hulle daarop vertrou.
Hulle hoop is beskaam
toe hulle daar gekom het.
21Net so kon julle my ook
nie help nie.
Julle het my ellende gesien,
en bang geword.
22Hoekom?
Het ek ooit van julle ’n geskenk
verwag?
Het ek ooit by julle gesmeek
dat julle iemand
met julle geld
vir my moes omkoop?
23Het ek van julle verwag
om my van die vyand te red?
Het ek gevra
dat julle my verlos
van my verdrukkers?
24“Leer my en dan sal ek stilbly.
Sê my net:
Wat het ek verkeerd gedoen?
25Eerlike kritiek
kan wel seermaak,
maar julle argumente
bewys niks!
26Dink julle dat julle woorde
oorreed
as julle nie eens my wanhoop
kan hoor nie?
27Julle dobbel oor die toekoms
van ’n weeskind.
Julle sal selfs julle vriend
vir geld verkoop.
28“Kyk na my!
Sal ek in julle gesigte
vir julle lieg?
29Besin julle,
moenie onreg pleeg nie.
Besin julle,
my onskuld is op die spel.
30Dink julle ek lieg?
Ken ek nie die verskil
tussen reg en verkeerd nie?”

Currently Selected:

JOB 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy