YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 45

45
Kores, die Here se verkose een
1So sê die Here vir Kores,
sy gesalfde
wie se regterhand Ek gevat het
om nasies aan hom
te onderwerp,
konings se wapens af te vat
en deure voor hom
oop te maak
wat nie weer
gesluit sal word nie:
2“Ek sal voor jou uitgaan
en berge gelyk maak.
Ek breek bronsdeure oop
en slaan ystertralies stukkend.
3Ek gee vir jou skatte
wat weggesteek is
in die donker,
rykdomme opgesluit
in geheime plekke.
Ek doen dit sodat jy kan erken
dat Ek die Here is,
die God van Israel,
wat jou by jou naam roep
4ter wille van Jakob my dienaar,
van Israel wat Ek gekies het.
Ek het jou op jou naam geroep
en skryf jou hoog aan,
alhoewel jy My nie eens ken nie.
5Ek is die Here
en daar is geen ander nie.
Daar is geen ander God
as Ek nie.
Ek maak jou sterk,
al erken jy My nie eens nie.
6Dan sal die wêreld
van die ooste
tot by die weste
weet daar is geen ander God
as Ek nie.
Ek is die Here,
en daar is geen ander God nie.
7Ek maak die lig
en skep die donkerte.
Ek gee voorspoed
en stuur slegte tye.
Ek, die Here, is die Een
wat al hierdie dinge doen.
8“Laat die wolke
regverdigheid reën.
En laat die aarde oopgaan
om dit te ontvang
en die vrug
van redding oplewer
sodat regverdigheid
daaruit kan voortspruit.
Ek, die Here,
het hierdie dinge gemaak.
9Ellende wag vir hom
wat sy Skepper verwyt,
’n potskerf tussen potskerwe.
Kan die kleipot vir sy maker sê:
‘Wat maak jy?’
Kan jou handewerk vir jou sê:
‘Hy kan nie sy hande
gebruik nie’?
10Ellende wag vir hom
wat vir sy pa sê:
‘Waarom het u
’n kind verwek?’
Of vir ’n vrou:
‘Hoekom het julle ’n kind
in die wêreld gebring?’”
11Die Here, die Heilige
en die Skepper van Israel,
reageer so daarop:
“Betwyfel julle wat Ek doen?
Sê julle vir My
wat Ek moet doen?
12Ek het die aarde gemaak
en mense geskep
om daarop te lewe.
Met my eie twee hande
het Ek die hemel uitgestrek.
Al die miljoene sterre
staan onder my bevel.
13Ek het Kores opgeroep
om reg te doen.
Ek self maak ’n pad
waarop hy sal loop.
Hy sal my stad herstel,
en my ballinge bevry.
Hy sal nie beloon word
vir wat hy doen nie,
sê die Here, die Almagtige.”
Heidene sal anders dink
14So sê die Here:
“Die produkte van Egipte,
en die handelsware van Kus,
ook die lang mense van Seba
sal na jou toe kom.
Hulle sal agter jou loop
en jou gevangenes wees.
Hulle sal voor jou buig
en teenoor jou bely en sê:
‘God is verseker met jou!
Daar is geen ander God nie.
Hy is die enigste God!’”
15Waarlik, U is ’n God
wat Uself verberg,
God en Redder van Israel!
16Mense wat afgodsbeelde maak,
sal verneder word
en in die skande kom.
17Maar die Here sal
Israel vir altyd red.
Hulle sal nooit
weer verneder word
of in die skande kom nie.
18So sê die Here,
Hy wat die hemel geskep het,
Hy is God
wat die aarde gevorm
en gemaak het.
Hy het dit gevestig.
Hy het dit nie gedoen
om leeg te wees nie,
maar om bewoon te word.
“Ek is die Here,” sê Hy.
“Daar is niemand anders nie.
19Ek het nie in die geheim gepraat,
êrens in ’n donker land nie.
Ek het nie vir die afstammelinge
van Jakob beveel om vir My
iets te vra
wat Ek nie beplan
om vir hulle te gee nie.
Ek, die Here, praat die waarheid.
Ek sê wat reg is.
20“Kom almal vir ’n vergadering
bymekaar,
julle almal uit die nasies
wat rondhardloop.
Hoe dwaas is almal
wat hulle afgodsbeelde
van hout ronddra,
wat bid tot gode
wat nie kan red nie!
21Praat saam, stel julle saak,
bring julle bewyse dat
afgode kan vertel
wat in die toekoms gaan gebeur.
Wie het lankal terug
gesê wat gaan gebeur?
Was dit nie Ek, die Here, nie?
Want daar is geen ander God
as Ek nie,
’n regverdige God en ’n Redder.
Buiten My is daar niemand nie.
22“Laat die hele wêreld
na My toe kom
sodat julle gered kan word.
Want Ek is God
en daar is geen ander nie.
23Ek lê ’n eed af by my Naam,
en sal nooit teruggaan
op wat Ek gesê het nie:
Elke knie sal voor My buig,
en elke mond sal lojaliteit
aan My sweer.”
24Die mense sal sê:
“Die Here is die bron
van my reg en krag.”
Almal wat kwaad vir Hom is,
sal skaamkry wanneer hulle
voor Hom verskyn.
25In die Here
sal die nageslagte van Israel
geregverdig wees
en in Hom roem.

Currently Selected:

JESAJA 45: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy