YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 46

46
Jakob en sy nageslag vertrek na Egipte
1Jakob#45:21, 28; 46:1 Grondteks Israel. het met al sy besittings die reis na Egipte aangepak. Toe hy Berseba bereik, bring hy offers aan die God van Isak, sy pa. 2In die nag het God in ’n visioen met hom gepraat. “Jakob! Jakob!” het Hy geroep.
“Ek luister,” antwoord Jakob.
3Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot ’n groot nasie maak. 4Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal julle weer terugbring. Wanneer jy sterf, sal Josef by jou wees om jou oë toe te druk.”
5Jakob het gereedgemaak om vanaf Berseba te vertrek, en sy seuns het hom na Egipte toe gebring. Hulle het hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens laat klim wat die farao saamgestuur het. 6Hulle het ook hulle lewende hawe en al die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het, saamgeneem. So het Jakob en sy hele nageslag in Egipte aangekom: 7sy seuns en kleinseuns, sy dogters en kleindogters – sy hele familie.
8Dit is die name van die Israeliete, die nageslag van Jakob, wat saam met hom na Egipte toe gegaan het:
Ruben, Jakob se oudste seun. 9Die seuns van Ruben was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.
10Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou.
11Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari.
12Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al vroeër in Kanaän gesterf.
Peres se seuns was Gesron en Gamul.
13Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Job#46:13 Sommige Griekse manuskripte en die Samaritaanse Pentateug (vgl ook Num 26:24; 1 Kron 7:1) lees Jasub. en Simron.
14Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël.
15Dit is die 33 seuns en kleinseuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter Dina gehad.
16Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.
17Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en hulle suster Serag.
Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.
18Dit is die sestien afstammelinge wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea as slavin gegee.
19Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel.
20In Egipte is twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On#46:20 Later genoem Heliopolis., het aan hulle geboorte gegee. Hulle was Manasse en Efraim.
21Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.
22Dit is die veertien seuns en kleinseuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het.
23Dan en sy seun Sugam.
24Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.
25Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee.
26Die getal direkte afstammelinge van Jakob wat saam met hom Egipte toe gegaan het, was 66, die vroue van die seuns uitgesluit. 27Josef het ook twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. In totaal was daar dus 70 lede van Jakob se familie in Egipte.
Jakob se familie kom in Gosen aan
28Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het, 29het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil. 30Toe sê Jakob#46:30 Grondteks Israel. vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.”
31Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees. 32Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’ 33Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep, 34moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”

Currently Selected:

GENESIS 46: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy