YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 10

10
Dawid verslaan die Ammoniete
1’n Tyd hierna het koning Nagas van die Ammoniete gesterf en sy seun Ganun het hom opgevolg. 2Dawid het gedink: “Ek sal ’n goeie verhouding met Ganun handhaaf ter wille van sy pa Nagas. Hy was altyd lojaal aan my.” Dawid stuur toe gesante om sy medelye oor sy pa se dood aan Ganun oor te dra.
Maar toe Dawid se gesante in die land Ammon aankom, 3sê die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun: “Dink u werklik hierdie manne het gekom om u vader te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die stad te spioeneer sodat hulle kan kom en dit verower!” 4Ganun gryp toe Dawid se gesante, skeer die helfte van hulle baarde af, sny hulle klere onderkant die heupe af en stuur hulle terug. 5Toe Dawid dit hoor, stuur hy boodskappers na die manne toe om hulle te gaan ontmoet, want hulle het baie vernederd gevoel. Hy het hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het. Dan kan julle terugkom huis toe.”
6Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid beledig het. Hulle stuur toe gesante en huur 20 000 voetsoldate by die Arameërs uit Bet-Regob en Soba, asook 1 000 by die koning van Maäka, en 12 000 uit die land Is-Tob. 7Toe Dawid dit hoor, stuur hy Joab en die hele leër van Israel, almal dapper manne. 8Die Ammoniete het hulle gevegslinie voor die stadspoort opgestel, terwyl die Arameërs van Soba en Regob, en die manskappe van Is-Tob en Maäka in die oop veld stelling ingeneem het.
9Toe Joab sien dat hy aan twee fronte sou moes veg, kies hy van die beste soldate in sy leër en voer hulle aan teen die Arameërs. 10Die res van die leër plaas hy onder bevel van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete. 11“As die Arameërs die oorhand oor my kry, moet jy oorkom en my kom help,” sê Joab vir sy broer. “As die Ammoniete jou oorweldig, sal ek oorkom om jou te help. 12Hou goeie moed! Laat ons dapper veg ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die wil van die Here geskied!”
13Joab en sy leër het aangeval, maar die Arameërs het gevlug. 14Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs op die vlug geslaan het, het hulle ook vir Abisai gevlug en in die stad gaan skuil. Hierna het Joab na Jerusalem toe teruggegaan.
15Die Arameërs het nou besef dat hulle nie teen die Israeliete opgewasse was nie. Hulle het bondgenootskappe gesluit 16en Hadad-Eser het nog Aramese troepe van die oorkant van die Eufraatrivier af ontbied. Hierdie manskappe het onder die bevel van Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, in Gelam aangekom.
17Toe Dawid hoor wat aan die gang was, het hy die hele Israel opgeroep, die Jordaan oorgesteek en die leër na Gelam gelei. Die Arameërs het stelling ingeneem en Dawid aangeval. 18Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se magte 700 soldate op strydwaens en 40 000 perderuiters#10:18 1 Kron 19:18 sê voetsoldate. doodgemaak. Hy het ook Sobak, die bevelvoerder van die leër, gewond sodat hy gesneuwel het. 19Toe Hadad-Eser en sy Aramese bondgenote besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle vrede gesluit en aan Israel onderhorig geword. Daarna was die Arameërs bang om weer die Ammoniete te help.

Currently Selected:

2 SAMUEL 10: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy