Bible App logo
Soek-ikoon

TITUS 1:14-16 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

TITUS 1:14-16 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie. Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel. Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.

TITUS 1:14-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

en hulle nie besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie. Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.

TITUS 1:14-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle moet ophou om na Joodse mites en na die opdragte van mense te luister wat hulle rug op die waarheid gedraai het. Enigiets is rein vir dié wie se harte rein is. Maar niks is rein vir hulle wat korrup en ongelowig is nie, want hulle gedagtes en gewetens is besoedel. Sulke mense gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. Hulle is verwerplik en rebels, ware deugniete wat tot niks goeds in staat is nie.

TITUS 1:14-16 DB (Die Boodskap)

Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan. Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie. As die Here ’n mens vrygemaak het, hoef jy nie meer al die wette en reëls van daardie mense te gehoorsaam nie. Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte “godsdiens”. Hulle kom dit nie eens agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde. Hulle sondige geaardheid maak dat hulle verkeerd dink. Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg. Want wat hulle doen, sê iets heeltemal anders. Hulle vang die verskriklikste dinge aan. Hulle luister glad nie na wat God sê nie. Hierdie mense doen nie ’n enkele ding wat sy hart bly maak nie.

TITUS 1:14-16 ABA (Bybel vir almal)

Hulle moet ophou om te luister na die Jode se stories wat nie waar is nie. Hulle moet ook nie luister na ander mense wat vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Hulle moet ophou om te luister na daardie mense, want dit is mense wat self nie meer wil luister na die waarheid nie. Alles is rein vir mense wat net vir God dien. Maar party mense dink verkeerde dinge, hulle gedagtes is vuil van die sonde, en hulle glo nie in Christus nie, niks is rein vir hulle nie. Hulle kan nie reg dink nie en hulle weet nie wat is reg of verkeerd nie, want die sonde het alles wat hulle dink, vuil laat word. Hulle sê vir almal dat hulle vir God ken, maar die dinge wat hulle doen, wys dat hulle nie vir Hom ken nie. God haat daardie mense, want hulle luister nie na Hom nie en hulle kan nie iets doen wat goed is nie.

TITUS 1:14-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

en hulle nie meer besig hou met Joodse mites en menslike voorskrifte wat van die waarheid afwyk nie. Alles is rein vir dié wat rein is, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie: sowel hulle denke as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade; hulle is afstootlik en onversetlik, onbekwaam om enigiets goeds te doen.

TITUS 1:14-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Moenie ag gee op Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie. Vir die reines is alles rein, maar vir die wat besoedel en ongelowige is, is niks rein nie; maar selfs hulle verstand en gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken; maar in die werke verloën hulle Hom, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en tot elke goeie werk verwerplik is.