DIE OPENBARING 22:7-20 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 22:7-20 AFR83 (Afrikaans 1983)
Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.” Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!” Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.” Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.” Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!
DIE OPENBARING 22:7-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God. En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet. Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
DIE OPENBARING 22:7-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die profetiese woorde in hierdie boekrol gehoorsaam.” Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het. Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!” Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby. “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly.” Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad. Al die onreines bly buite – die towenaars, dié wat seksuele sondes doen, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en lieg. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.” Die Gees en die bruid sê toe: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat smag na die lewegewende water, moet kom haal, verniet! Ek getuig plegtig teenoor elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boekrol hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom as straf die plae byvoeg waarvan in hierdie boekrol geskryf is, en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boekrol wegneem, sal God sy deel wegneem aan die boom van die lewe en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is. Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!
DIE OPENBARING 22:7-20 DB (Die Boodskap)
Maak jou reg; Ek kom gou! Enigeen wat die boodskap van God in hierdie boek lees, moet homself baie gelukkig ag!” Ek, Johannes, het al hierdie dinge met my eie ore gehoor en met my eie oë gesien. Toe ek dit gesien en gehoor het, het ek net daar op my knieë neergesak. Daar aan sy voete wou ek die engel wat my alles gewys het, eer en soos God aanbid. “Wag, moenie!” sê die engel toe. “Net soos jy is ek ook net iemand wat God dien. Daar is geen verskil tussen my en jou en al die ander boodskappers van God, al die broers en susters en die mense wat die boodskap van hierdie boek ernstig opneem nie. Ons almal moet dieselfde doen: eer en aanbid God!” Hy sê verder vir my: “Moenie hierdie boek met die boodskap van God geheim hou of iewers wegsteek nie. Die tyd dat dit alles moet gebeur, is voor die deur. Laat die een wat verkeerde dinge doen, maar daarmee aanhou. Die een wat walglik wil wees, moet dit maar wees. Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef.” “Kyk, Ek is op pad, Ek kom gou,” sê Christus. “My lys van wie beloon moet word, bring Ek saam. Ek sal elkeen gee wat hy volgens sy optrede verdien. Ek is die Een by wie alles begin en by wie alles ook eindig; die Eerste en die Laaste. Niks bestaan of gebeur buite My om nie. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.” Die Gees asook die bruid sê: “Kom!” Wie hierdie woorde hoor, moet ook sê: “Kom!” Laat die een wat geestelik dors het, kom. Enigeen wat graag wil, kan die water wat ’n mens vir ewig laat leef, verniet kom kry. En nou ’n waarskuwing: dit gaan aan almal wat die boodskap van hierdie boek hoor. Ek waarsku die persoon wat enigiets by hierdie boodskap bysit. God sal hom met al die plae en slegte dinge tref waarvan daar in hierdie boek vertel word. Iemand wat iets van God se boodskap in hierdie boek weglaat, moet ook gewaarsku wees. God sal sy aandeel in die boom wat aan mense die lewe gee en sy plek in die heilige stad vir ewig wegneem. (Dit is die boom en die stad waarvan vroeër in die boek gepraat is.) Hy wat hierdie dinge aan ons met soveel oortuiging vertel het, sê nou weer: “Sowaar, Ek is op pad; Ek kom gou.” “Laat dit wees soos U sê! Kom, Here Jesus!”
DIE OPENBARING 22:7-20 ABA (Bybel vir almal)
Christus het gesê: “Ek sal gou kom! In hierdie boek is die dinge geskryf wat moet gebeur. As iemand dit lees en dit glo, dan is hy gelukkig!” Ek, Johannes, het al die dinge gesien en gehoor wat in hierdie boek geskryf is. 'n Engel het dit vir my gewys. Toe ek dit alles gesien en gehoor het, het ek voor die engel se voete gekniel en ek wou hom aanbid. Maar hy het vir my gesê: “Jy moenie vir mý aanbid nie, want ek dien ook vir God. Ek dien Hom ook soos jy en jou vriende, die profete, en soos al die ander mense wat hierdie boek lees en wat doen wat daarin geskryf is.” Die engel het ook vir my gesê: “In hierdie boek is die dinge geskryf wat moet gebeur. Jy moenie stilbly daaroor nie, want daar is min tyd voordat dit sal gebeur! Die mense wat verkeerde dinge doen, moet nog meer verkeerde dinge doen! En die mense wat slegte dinge doen, moet nog meer slegte dinge doen! Maar die mense wat doen wat God wil hê, moet nog meer dinge doen wat God wil hê! En die mense wat reg lewe, moet aanhou om reg te lewe!” Toe sê Christus weer: “Ek sal gou kom! Ek weet wat elke mens gedoen het en Ek sal elke mens beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. “Die mense wat reg lewe, is gelukkige mense! Hulle is soos mense wat skoon klere aangetrek het. Hulle mag eet van die vrugte van die bome van die lewe! En hulle mag deur die poorte ingaan na God se stad! Buite God se stad is die slegte mense en die mense wat toor en die mense wat onsedelik lewe en die mense wat ander mense vermoor en die mense wat afgode dien en almal wat daarvan hou om te lieg. “Ek, Jesus, het my engel na julle toe gestuur. Die engel het al die dinge in hierdie boek vir die gemeentes gesê. Ek, Jesus, is die Wortel van Dawid, die Nageslag van Dawid, en die Blink Môrester.” Ja, die Gees en die kerk, Jesus se bruid, sê: “U moet kom!” Elkeen wat dit hoor, moet sê: “U moet kom!” As iemand geestelik dors is, dan moet hy water kom haal, water wat hom altyd sal laat lewe, water wat verniet is. Die dinge wat moet gebeur, is in hierdie boek geskryf. Ek sê nou vir almal wat hierdie boek lees: “As iemand sê dat God dinge sal laat gebeur, en daardie dinge is nie in hierdie boek geskryf nie, dan sal God hom straf! God sal vir hom die strawwe gee wat in hierdie boek geskryf is! En as iemand sê die dinge wat in hierdie boek geskryf is, sal nie gebeur nie, dan sal God hom straf! God sal sê hy mag nie eet van die vrugte van die boom van die lewe nie, en hy mag nie ingaan in die gewyde stad nie. In hierdie boek is geskryf van die boom van die lewe en van die gewyde stad.” Dit is die Here Jesus wat al hierdie dinge sê. Hy sê ook: “Ja, Ek sal gou kom!” Amen! U moet kom, Here Jesus!
DIE OPENBARING 22:7-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol. ” Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.” “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester. ” En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg. En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.” Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou! ” •Amen! Kom, Here Jesus!
DIE OPENBARING 22:7-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Kyk, Ek kom gou; geseënd is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. En ek, Johannes, het hierdie dinge gesien en dit gehoor. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge laat sien het. Toe sê hy vir my: Pas op dat jy dit nie doen nie, want ek is jou mededienskneg en van jou broers, die profete, en van die wat die woorde van hierdie boek bewaar: aanbid God. En hy sê vir my: Verseël nie die woorde van die profesie van hierdie boek nie, want die tyd is naby. Wie onregverdig is, laat hom nog steeds onregverdig wees; en wie vuil is, laat hom nog vuil word; en wie regverdig is, laat hom nog steeds regverdig wees; en wie heilig is, laat hom nog heilig wees. En kyk, Ek kom gou; en my loon is by My, om elkeen te gee soos sy werk sal wees. Ek is Alfa en Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Geseënd is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Want buite is honde en towenaars en hoereerders en moordenaars en afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en maak. Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge in die gemeentes aan julle te betuig. Ek is die wortel en die nageslag van Dawid, en die helder môrester. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat dit hoor sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom. En elkeen wat wil, laat hom die water van die lewe verniet neem. Want ek getuig aan elke mens wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, sal God oor hom die plae byvoeg wat in hierdie boek geskrywe is. En as iemand die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge wat in hierdie boek geskrywe is. Hy wat hierdie dinge getuig, sê: Ek kom tog gou. Amen. Tog, kom, Here Jesus.