DIE OPENBARING 1:5-7 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 1:5-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!
DIE OPENBARING 1:5-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
DIE OPENBARING 1:5-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, en ons laat deel in sy koninklike regering, aan Hom wat ons priesters vir God, sy Vader, gemaak het, aan Hom behoort die heerlikheid en die krag vir ewig en altyd. Amen. Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
DIE OPENBARING 1:5-7 DB (Die Boodskap)
En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie. Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker. “Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees!
DIE OPENBARING 1:5-7 ABA (Bybel vir almal)
En Jesus Christus is die Getuie, Hy doen altyd wat Hy sê, Hy is die Eerste Een wat dood was en wat weer lewe, Hy regeer oor die konings van die aarde. Jesus Christus is lief vir ons. Hy het gesterf en Hy het ons gered van ons sonde. Hy het gesê God, sy Vader, regeer oor ons, ons is soos die priesters wat vir God werk. Daarom sal ons altyd vir Jesus Christus prys, Hy wat oor alles regeer! Amen. Kyk, Jesus Christus sal weer kom op die wolke, al die mense sal Hom sien, ook die mense wat Hom gesteek het met 'n spies. Al die volke op die aarde sal huil en treur wanneer Hy kom. Dit is seker. Amen.
DIE OPENBARING 1:5-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
en van Jesus •Christus, die betroubare getuie, die •Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons 'n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. •Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!
DIE OPENBARING 1:5-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En van Jesus Christus, wat die getroue getuie is en die Eersgeborene uit die dode en die owerste van die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy eie bloed, En Hy het ons konings en priesters vir God en sy Vader gemaak; aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid. Amen. Kyk, Hy kom met wolke; en elke oog sal hom sien, en ook die wat hom deursteek het, en al die geslagte van die aarde sal oor hom huil. Desondanks, Amen.