MARKUS 6:4-13 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
MARKUS 6:4-13 AFR83 (Afrikaans 1983)
Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer. Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
MARKUS 6:4-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis. En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer. EN Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste, en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen — geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie, maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie. En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek. En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
MARKUS 6:4-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof. Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
MARKUS 6:4-13 DB (Die Boodskap)
“So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.” Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie. Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel. Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi.
MARKUS 6:4-13 ABA (Bybel vir almal)
Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in sy eie stad, in sy eie familie en sy eie huisgesin respekteer hom nie.” Jesus kon nie een wonderwerk in Nasaret doen nie. Hy het sy hande net op 'n paar siek mense gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Jesus was verbaas omdat die mense nie in Hom geglo het nie. Jesus het aangehou om in elke stad daar naby vir die mense te leer. Hy het ook die twaalf dissipels geroep en Hy het hulle na die mense toe gestuur. Hy het gesê hulle moenie alleen gaan nie, hulle moet twee-twee saam gaan. Hy het gesê Hy sal vir hulle krag gee om onrein geeste uit mense uit te jaag. Jesus het vir hulle gesê hulle mag niks saamneem wanneer hulle gaan nie. Hulle mag net 'n kierie saamneem, maar nie kos, of 'n rugsak, of geld in hulle beursies nie. Hulle mag sandale aantrek, en hulle moenie nog klere saamneem nie. Jesus het ook vir hulle gesê: “Wanneer mense julle nooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. En wanneer die mense in 'n stad julle nie daar wil laat bly nie en nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.” Die dissipels het na die mense toe gegaan en gepreek. Hulle het vir die mense gesê hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Die dissipels het ook baie duiwels uitgejaag uit mense, en hulle het baie siek mense gesalf met olyf-olie en hulle het die mense gesond gemaak.
MARKUS 6:4-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof. Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak.
MARKUS 6:4-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, maar in sy eie land en onder sy familie en in sy huis. En hy kon daar geen kragtige werk doen nie, behalwe dat hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle genees het. En hy was verwonderd oor hulle ongeloof. En hy het in die dorpe rondgegaan en geleer. En hy het die twaalf na hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur; en het hulle mag gegee oor onrein geeste; En hulle het bevel gegee dat hulle niks op hulle reis moes neem nie, behalwe net 'n staf; geen skroef, geen brood, geen geld in hulle beursie nie. Maar wees geskoei met sandale; en nie twee jasse aantrek nie. En Hy sê vir hulle: Waar julle ook al in 'n huis ingaan, bly daar totdat julle van daardie plek weggaan. En elkeen wat julle nie ontvang en na julle nie luister nie, as julle daarvandaan vertrek, skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak.