Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

LEVITIKUS 26:1-13 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

LEVITIKUS 26:1-13 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Julle mag vir julle geen gode maak nie. Julle mag geen beelde of klippilare oprig nie. Julle mag in julle land geen klippe met afbeeldings hê wat deur julle vereer word nie. Ek, die Here, is julle God. Julle moet my sabbatte vier en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here. “As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra. Julle sal graan dors tot dit weer tyd is om vrugte te oes, en julle sal vrugte oes tot dit weer planttyd is. Julle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in julle land woon. Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap: Ek sal die ongediertes uitroei en daar sal nie oorlog in julle land kom nie. Julle sal julle vyande verdryf en om die lewe bring. Net vyf van julle soldate sal honderd van die vyand op loop jaag, en net honderd van julle sal tien duisend op loop jaag. Julle sal hulle om die lewe bring. Ek sal vir julle goed wees en julle vrugbaar maak sodat julle 'n groot nasie sal word. So sal Ek my verbond met julle nakom. Julle sal nie eens 'n vorige seisoen se graan kan opgebruik nie, julle sal dit moet weggooi om plek te maak vir die nuwe oes. Ek sal by julle woon en nie 'n afsku van julle hê nie. Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat julle nie meer sy slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle moes dra, gebreek en julle vrygemaak.

LEVITIKUS 26:1-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

JULLE mag vir julle geen afgode maak nie; en 'n gesnede beeld of 'n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en 'n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God. My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE. As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard. En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig. Julle sal ou koring van vorige jare eet en die oue laat plek maak vir die nuwe. En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. En Ek sal in jul midde wandel en vir julle 'n God wees, en júlle sal vir My 'n volk wees. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en Ek het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop.

LEVITIKUS 26:1-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Julle mag nie afgode of gesnede beelde maak, of heilige pilare of gekapte klippe oprig om in julle land te aanbid nie. Ek, die HERE, is julle God. Julle moet my Sabbatdae onderhou en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die HERE. “As julle my reëls nakom en my gebooie noukeurig gehoorsaam, sal Ek dit laat reën op die regte tyd. Die land sal dan sy opbrengs lewer en die bome sal vrugte dra. Julle sal graan oes totdat dit tyd is vir die druiwe-oes. Julle druiwe-oes sal weer duur totdat dit tyd is om graan te plant. Julle sal genoeg hê om te eet en in veiligheid in die land woon. “Ek sal vir julle vrede gee in die land en julle sal gaan slaap sonder om bang te wees. Ek sal die wilde diere uit julle land wegneem en julle van julle vyande bewaar. Om die waarheid te sê, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle swaarde vernietig. Net vyf van julle sal 100 agtervolg en 100 van julle sal 10 000 agtervolg. Al julle vyande sal onder julle wapens tot ’n val kom. “Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom. Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes. Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie. Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. “Ek, die HERE, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”

LEVITIKUS 26:1-13 DB (Die Boodskap)

“Julle mag nie in julle land vir julleself afgodjies maak wat julle gebruik om gode te aanbid nie. Julle mag ook nie uitgekerfde beelde hê, of klippilare oprig, of klippe hê waarop julle beelde van gode uitgegraveer het nie. Ek, die Here, is mos reeds julle God. Julle moet my rusdae vier en respek hê vir die tent waar julle My ontmoet. Ek is die Here.” “As julle volgens my reëls lewe en die dinge doen wat Ek julle beveel en in lyn daarmee optree, sal Ek dit betyds laat reën. Daar sal oeste wees op die lande en vrugte aan die bome. Julle oesseisoen sal aanhou tot dit weer tyd is om druiwe te pluk. Julle druiweoes sal aanhou tot dit tyd is om weer koring te saai. Julle sal oorgenoeg kos hê en julle sal gerieflik in julle land bly. Ek sal sorg dat daar vrede in julle land is sodat julle rustig kan slaap in die nag. Ek sal die gevaarlike diere uit julle land laat verdwyn. Ek sal julle teen die aanvalle van julle vyande beskerm. Trouens, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle wapens afmaai. Net vyf van julle sal nodig wees om 100 van hulle te agtervolg. Honderd sal 10 000 vyande agternasit en hulle van die gras af maak. Ek sal goed wees vir julle. Ek sal maak dat julle baie mense word. So sal Ek my ooreenkoms met julle nakom. Julle sal nog van die vorige jaar se graan eet wanneer dit weggegooi sal word om plek te maak vir die graan van die nuwe oes. Ek sal onder julle woon. Ek sal julle nie minag nie. Ek sal saam met julle bly. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Ek is die Here, julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle nek afgedruk het, stukkend gebreek sodat julle weer regop kan loop.”

LEVITIKUS 26:1-13 ABA (Bybel vir almal)

“Julle mag nie vir julle afgode maak nie. Julle mag nie beelde maak en klip-pale in die grond plant nie en julle mag nie klippe met prente van afgode in julle land neersit en voor hulle buig nie, want Ek is julle God die Here. Julle moet aanhou om my Sabbatdae te vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here. As julle lewe soos Ek sê en aanhou om te doen wat my gebooie sê, dan sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, en daar sal baie koring op die koringland wees en baie vrugte aan die bome. Julle sal besig wees om op die dorsvloer te werk, dan sal julle ook moet begin om by die parskuip te werk, en julle sal besig wees om by die parskuip te werk, dan sal julle weer moet begin om koring en gars te saai. Julle sal genoeg kos hê om te eet en julle sal veilig woon in die land. Ek sal vrede gee in die land, en julle sal rustig slaap. Ek sal die wilde diere wegvat uit die land, en daar sal nie oorlog kom in die land nie. Julle sal julle vyande volg en jaag en julle sal hulle doodmaak. Vyf van julle sal 100 vyande volg en jaag, 100 van julle sal 10 000 vyande volg en jaag, julle sal julle vyande doodmaak. Ek sal vir julle sorg en Ek sal julle vrugbaar maak sodat julle baie sal word. Ek sal my verbond met julle hou en doen wat Ek belowe het. Julle sal brood eet van koring wat julle lank gelede gebêre het en julle sal die ou koring moet uithaal om plek te maak vir die nuwe koring. Ek sal my tempel tussen julle laat bly, dit sal nie vir My moeilik wees om naby julle te wees nie. Ek sal saam met julle lewe, Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees. Ek is julle God die Here, Ek het julle uit die land Egipte gebring. Julle was daar slawe, maar Ek het julle jukke gebreek sodat julle weer regop kon loop.”

LEVITIKUS 26:1-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ ‘ Julle mag nie vir julle afgode maak nie; gesnede beelde en gedenkstene mag julle nie vir julle oprig en klippe met afbeeldings op mag julle nie in julle land neersit en in aanbidding voor hulle buig nie, want Ek, die HERE, is julle God. My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die HERE. “ ‘ As julle my vaste voorskrifte volg en my bevele nakom en dit uitvoer, sal Ek julle reën op die regte tyd vir julle gee. Die land sal sy opbrengs lewer en die bome in die veld sal hulle vrugte gee. Die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiweoes, en die druiweoes sal aanhou tot saaityd. Julle sal meer as genoeg eet en veilig woon in julle land. “ ‘ Ek sal vrede gee in die land. Julle sal gaan lê en niemand sal julle opjaag nie. Ek sal die ongediertes uit die land verwyder en 'n swaard sal nie deur julle land trek nie. Julle sal julle vyande agtervolg en deur die swaard sal hulle voor julle val. Vyf van julle sal honderd agtervolg en honderd van julle sal tienduisend agtervolg, ja, julle vyande sal deur die swaard voor julle val. Ek sal na julle omsien, julle vrugbaar maak en julle laat vermeerder. Ek sal my verbond met julle gestand doen. Julle sal nog graan van die vorige jaar oorhê om te eet, maar julle sal dit moet weggooi met die nuwe oes. “ ‘ Ek sal my •tabernakel onder julle oprig en nie 'n afkeer van julle hê nie. Ek sal tussen julle rondbeweeg: Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir My 'n volk wees. Ek, die HERE, is julle God wat julle uit Egipteland laat wegtrek het, sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die skeie van julle jukke gebreek en julle regop laat loop.

LEVITIKUS 26:1-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Julle mag vir julle geen drekgode of gesnede beeld maak nie, en vir julle geen staande beeld oprig nie, en geen klipbeeld in julle land oprig om daarvoor neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God. Julle moet my sabbatte onderhou en my heiligdom ontsien: Ek is die HERE. As julle in my insettinge wandel en my gebooie bewaar en dit doen; Dan sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En julle dorswerk sal tot by die oesjaar kom, en die oesjaar tot die saaityd; en julle moet julle brood volop eet en veilig in julle land woon. En Ek sal vrede gee in die land, en julle sal gaan lê, en niemand sal julle verskrik nie; en Ek sal bose diere uit die land uitroei, en die swaard sal nie deur julle land trek nie. En julle sal julle vyande agtervolg, en hulle sal voor julle deur die swaard val. En vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend op die vlug slaan, en julle vyande sal voor julle deur die swaard val. Want Ek sal vir julle ag gee en julle vrugbaar maak en julle vermeerder en my verbond met julle oprig. En julle sal ou voorraad eet en die oue voortbring ter wille van die nuwe. En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. En Ek sal onder julle wandel en vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, sodat julle nie hulle slawe sou wees nie; en Ek het die bande van jou juk verbreek en jou regop laat staan.