JOB 20:4-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JOB 20:4-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Weet jy wat vroeër gebeur het, van die tyd af toe die mens op die aarde geplaas is? Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is, dat die blydskap van die godlose net 'n oomblik duur? Al sou sy trots tot in die hemel reik en sy kop aan die wolke raak, sal hy soos sy eie uitwerpsel vir altyd vergaan. Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy verdwyn soos 'n droom, hy is nêrens te vind nie, hy raak weg soos 'n gesig in die nag. Die oog wat hom gesien het, sal hom nie weer sien nie, sy plek is vir altyd leeg. Sy kinders sal die armes moet vergoed, met sy eie hande sal hy sy rykdom moet teruggee. Die jeugdige krag van sy liggaam gaan saam met hom die graf in.
JOB 20:4-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
WEET jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is: dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik? Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke — soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy? Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig. Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie. Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee. Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
JOB 20:4-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Jy moet besef dat dit nog altyd so was: Vandat die mens op aarde is, was die gejuig van die kwaaddoener van korte duur en die vreugde van die goddelose net tydelik. Al reik die trots van ’n goddelose tot in die hemel en al is sy kop in die wolke, tog vergaan hy vir altyd, weggegooi soos sy eie uitwerpsel. Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy sal vervaag soos ’n droom. Jy kan hom nêrens kry nie. Hy verdwyn soos ’n visioen in die nag. Die wat hom eens op ’n tyd gesien het, sal hom nooit weer sien nie. Sy plek sal hom nie meer ken nie. Sy kinders bedel by die armes, want hy sal self sy rykdom teruggee. Hy is nog maar ’n jong man, maar sy beendere lê in die stof.
JOB 20:4-11 DB (Die Boodskap)
“Ek is seker jy weet dat vandat die eerste mens op die aarde gesit is, die slegte mense se geluk nie lank hou nie. Dit is ook so dat die blydskap van ’n mens wat God nie wil ken nie, net ’n kort rukkie hou. Al sou ’n goddelose mens dink dat hy beter as gewone mense is, en met sy kop in die wolke loop, sal daar op die ou einde tog niks van hom oorbly nie. Hy sal soos sy eie ontlasting net verdwyn. Mense wat hom ken, sal vra: “Wat het van hom geword?” Hy sal soos ’n droom of ’n gesig wat hy in die nag sien, net wegraak. Sy vriende en familie sal hom nooit weer sien nie. Sy kinders sal by die arm mense bedel, want hy sal sy rykdom moet teruggee. Hy is eintlik nog jonk en sterk, maar hy is op pad graf toe.
JOB 20:4-11 ABA (Bybel vir almal)
Jy weet dit goed, dit was lank gelede so, dit was so vandat God mense op die aarde gesit het: Wanneer mense juig wat verkeerd doen, dan kan hulle dit nie lank doen nie. Iemand wat nie vir God wil ken nie, kan net 'n kort tydjie bly wees. So iemand word miskien baie belangrik, hy is hoogmoedig en hy loop met sy neus in die lug, maar hy sal so vinnig verdwyn soos sy mis. Mense wat hom voorheen gesien het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy sal weggaan soos 'n droom, en jy sal hom nie kry nie. Mense sal hom vergeet, soos hulle vergeet wat hulle gesien het toe hulle gedroom het. Niemand sal hom weer sien nie, hy sal nooit weer wees waar hy was nie. Hy sal self die goed moet teruggee wat hy bymekaargemaak het, en sy kinders sal rente moet betaal op alles wat hy gevat het van arm mense. Hy sal nog sterk en gesond wees, maar hy sal in sy graf moet gaan lê.
JOB 20:4-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Dit weet jy tog: Van die vroegste tye af, vandat God die mens op aarde geplaas het, is die gejuig van goddeloses van korte duur, en die vreugde van 'n godlose net vir 'n oomblik. Al styg sy selfverheffing ten hemele, en raak sy kop aan die wolke, soos sy eie ontlasting gaan hy vir altyd tot niet; dié wat hom gesien het, sal vra, ‘Waar is hy?’ Soos 'n droom vlieg hy weg, sonder om weer gevind te word; hy word verdryf soos 'n naggesig. Die oog wat hom raakgesien het, sien hom nie meer nie, en sy plek merk hom nie meer op nie. Sy kinders moet die armes vergoed; sy eie hande gee sy rykdom terug. Sy liggaam was vol van sy jeugdige krag, maar saam met hom lê dit in die stof.
JOB 20:4-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Weet jy dit nie van ouds af nie, aangesien die mens op die aarde geplaas is, Dat die oorwinning van die goddelose kort is en die vreugde van die huigelaar maar vir 'n oomblik? Al styg sy hoogheid tot in die hemel en sy hoof reik tot by die wolke; Maar hy sal vir ewig soos sy eie mis omkom; die wat hom gesien het, sal sê: Waar is hy? Hy sal wegvlieg soos 'n droom en nie gevind word nie; ja, hy sal weggejaag word soos 'n naggesig. Ook die oog wat hom gesien het, sal hom nie meer sien nie; en sy plek sal hom nie meer aanskou nie. Sy kinders sal probeer om die armes te behaag, en sy hande sal hulle goed teruggee. Sy gebeente is vol van die sonde van sy jeug, wat saam met hom in die stof sal lê.