Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

HANDELINGE 7:44-50 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

HANDELINGE 7:44-50 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel: “Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here. Watter soort huis sal julle tog vir My bou of watter plek as my rusplek? Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?

HANDELINGE 7:44-50 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het. En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid wat genade gevind het voor God en gevra het om 'n woonplek vir die God van Jakob te verkry. En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?

HANDELINGE 7:44-50 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Ons voorgeslag het die tabernakel by hulle in die woestyn gehad. Dié tabernakel is gemaak presies volgens die plan wat God aan Moses gewys het. Jare later, toe Josua die gevegte aangevoer het teen die volke wat God uit die land verdryf het, het hulle die tabernakel saamgeneem na hulle nuwe land toe. Daar is dit gebruik tot in die tyd van koning Dawid. “Dawid het God se genade ervaar, en het gevra vir die voorreg om ’n tempel vir die huis van Jakob te bou. Dit was egter Salomo wat die tempel vir God gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in mensgemaakte plekke nie. Soos die profeet dit stel: ‘Die hemel is my troon, en die aarde is my voetbank. Enige tempel wat julle vir My bou, skiet ver tekort,’ sê die Here. ‘Kan julle ’n blyplek vir My bou? ‘Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?’

HANDELINGE 7:44-50 DB (Die Boodskap)

“Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê: ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen. Ek het vir Myself ’n hemelse woning gebou.’” Stefanus het daarna vir die Joodse Raad gesê

HANDELINGE 7:44-50 ABA (Bybel vir almal)

“Ons voorvaders het die tent en die tien gebooie wat daarin was, by hulle in die woestyn gehad. God het vir Moses gesê om die tent te maak. Dit moes dieselfde lyk soos die tent wat God vir Moses gewys het. Ons voorvaders het hierdie tent gekry en hulle het dit in hierdie land ingebring. Dit het gebeur toe Josua die land oorwin en gevat het. God het die volke wat daar woon, weggejaag sodat ons voorvaders daar kon woon. Die tent het in die land gebly tot in die tyd toe Dawid gelewe het. God was goed vir Dawid, en Dawid het vir God gevra of hy vir Hom 'n woonplek kan bou sodat Jakob se nageslag daar vir God kan dien. Maar dit was Dawid se seun Sálomo wat 'n tempel gebou het vir God. Maar God wat in die hoogste hemel woon, woon nie in tempels nie, want dit is mense wat tempels bou. Dit is wat die profeet sê: “Die Here sê: Die hemel is my troon, die aarde is die plek waarop Ek my voete sit. Dink julle dat julle vir Mý 'n huis kan bou waar Ek kan woon? Dit sê die Here. Dink julle dat daar 'n plek is waar Ek moet rus? Ek het alles gemaak met my eie hande.

HANDELINGE 7:44-50 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: “ ‘ Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’

HANDELINGE 7:44-50 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ons vaders het die tabernakel van die getuienis in die woestyn gehad, soos Hy dit bepaal het toe hy met Moses gespreek het, dat hy dit moes maak volgens die manier wat hy gesien het. Wat ook ons vaders wat daarna gekom het, saam met Jesus ingebring het in die besitting van die heidene, wat God voor die aangesig van ons vaders verdryf het tot in die dae van Dawid; wat genade gevind het voor God en begeer het om 'n tabernakel vir die God van Jakob te vind. Maar Salomo het vir hom 'n huis gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie; soos die profeet sê, Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank; watter huis sal julle vir My bou? spreek die Here: of wat is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?