HANDELINGE 26:4-7 – Vergelyk alle weergawes
HANDELINGE 26:4-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon. Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens. En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het. Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig.
HANDELINGE 26:4-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode, omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is, waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.
HANDELINGE 26:4-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind. Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty. En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is. Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word!
HANDELINGE 26:4-7 DB (Die Boodskap)
“Van my kinderdae af het ek tussen my eie mense in Jerusalem gebly. Hulle almal ken my. As een van hulle die moed sou gehad het om vandag hier op te staan, sou hulle vir u kon sê dat ek ’n lid was van die Fariseërs, die strengste godsdienstige groep binne ons godsdiens. Die ironie van dit alles is dat ek nou aangekla word omdat ek al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het met my hele lewe glo. Ek glo dieselfde dinge as dié waaraan al die Israeliete nog die hele tyd vasgehou het. Hulle het ook geglo dat God sal doen wat Hy belowe het.
HANDELINGE 26:4-7 ABA (Bybel vir almal)
“Al die Jode weet hoe ek gelewe het, vandat ek 'n kind was. Vandat ek klein was, het ek tussen my eie volk en in Jerusalem gebly. Hulle ken my 'n lang tyd. As hulle wil, dan sal hulle kan sê dat ek die waarheid praat wanneer ek sê dat ek 'n Fariseër was en dat ek gelewe het soos die Fariseërs. Die Fariseërs is die strengste groep in ons godsdiens, hulle lewe presies soos die wette sê. En nou staan ek voor jou sodat jy my kan oordeel omdat ek glo en weet dat God sal doen wat Hy vir ons voorvaders belowe het. Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het.
HANDELINGE 26:4-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Al die Jode weet hoe ek van die begin af, sedert my jeug, my lewe onder my volk in Jerusalem gelei het. Omdat hulle my van jongs af ken, sal hulle kan getuig, as hulle wil, dat ek volgens die strengste party in ons godsdiens, as •Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat deur God aan ons voorvaders gemaak is – die belofte wat ons twaalf stamme hoop om te verkry deurdat ons God dag en nag in alle erns dien. O koning, dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word.
HANDELINGE 26:4-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
My lewenswyse van my jeug af, wat die eerste keer onder my eie nasie in Jerusalem was, ken al die Jode; wat my van die begin af geken het, as hulle wou getuig, dat ek ná die mees benadeelde sekte van ons godsdiens 'n Fariseër gelewe het. En nou staan ek en word geoordeel vir die hoop op die belofte wat God aan ons vaders gemaak het. Waarop die belofte ons twaalf stamme hoop om te kom, wat God dadelik dag en nag dien. Om hierdie hoop, koning Agrippa, word ek van die Jode beskuldig.