Slaan direk na inhoud oor

HANDELINGE 1:3-5 – Vergelyk alle weergawes

HANDELINGE 1:3-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

HANDELINGE 1:3-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

HANDELINGE 1:3-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

In die loop van 40 dae na sy lydenstyd het Hy by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn, en op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het telkens met hulle oor die koningsheerskappy van God gepraat. ’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: “Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het: Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

HANDELINGE 1:3-5 DB (Die Boodskap)

Hy het gereeld met hulle oor God se nuwe wêreld gepraat. Eenkeer toe hulle almal so saam was, het Jesus vir hulle gesê: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie. Bly daar totdat my Vader die belofte wat Hy aan julle gemaak het, waar laat word.Vroeër het Ek vir julle gesê dat Johannes die Doper julle met water doop, maar dat God julle binnekort met die Heilige Gees gaan doop. Dit is hierdie belofte waarop julle nog so ’n klein rukkie moet wag.”

HANDELINGE 1:3-5 ABA (Bybel vir almal)

Nadat Jesus swaargekry en gesterf het, het Hy vir die apostels gewys dat Hy weer lewe. Hy het baie maal vir hulle bewys dat Hy weer lewe. Hy het 40 dae lank baie maal aan hulle verskyn en vir hulle vertel van God wat Koning is oor almal. Jesus het by die apostels gebly en Hy het vir hulle gesê hulle mag nie weggaan van Jerusalem nie. Hulle moes daar wag totdat alles gebeur het wat die Vader belowe het. Jesus het gesê: “Ek het al klaar vir julle vertel van hierdie belofte. Die belofte is: Johannes die Doper het julle met water gedoop, maar God sal julle met die Heilige Gees doop. Julle sal nie lank moet wag nie.”

HANDELINGE 1:3-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor 'n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die •koninkryk van God gepraat het. Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.”

HANDELINGE 1:3-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Aan wie hy ook na sy hartstog lewend getoon het deur baie onfeilbare bewyse, terwyl hy veertig dae lank daarvan gesien is, en gespreek het oor die dinge van die koninkryk van God. En toe hulle saam met hulle vergader het, het hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem af weg te gaan nie, maar te wag op die belofte van die Vader wat, sê Hy, julle van My gehoor het. Want Johannes het waarlik met water gedoop; maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie baie dae daarna nie.