1 JOHANNES 2:23-25 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
1 JOHANNES 2:23-25 AFR83 (Afrikaans 1983)
Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader. Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.
1 JOHANNES 2:23-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie. Wat julle dan van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As in julle bly wat julle van die begin af gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.
1 JOHANNES 2:23-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader. Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader. En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe.
1 JOHANNES 2:23-25 DB (Die Boodskap)
Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan. Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet ’n groot invloed op julle uitoefen. As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ’n nuwe lewe saam met God kom aanbied.
1 JOHANNES 2:23-25 ABA (Bybel vir almal)
Almal wat nie die Seun aanvaar nie, behoort nie aan die Vader nie, maar almal wat in die Seun glo en wat dit sê, behoort aan die Vader. Julle moet die boodskap aanvaar wat julle van die begin af gehoor het. As julle dit aanvaar, dan is julle by die Seun en die Vader. En Jesus het belowe dat Hy ons altyd sal laat lewe.
1 JOHANNES 2:23-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader. Wat julle betref: Wat julle van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As dit wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is die belofte wat Hy aan ons gemaak het: die ewige lewe.
1 JOHANNES 2:23-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Elkeen wat die Seun verloën, hy het nie die Vader nie; (maar) wie die Seun erken, het ook die Vader. Laat dit dan in julle bly, wat julle van die begin af gehoor het. As dit wat julle van die begin af gehoor het in julle sal bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.