Matteus 26:1-35
Matteus 26:1-35 DB
Daarmee het Jesus vir hulle gesê wat Hy wou sê. Hy begin toe met die dissipels praat oor die paasfees wat nader kom: “Julle weet natuurlik dat dit oor twee dae paasfees is. Dit gaan ’n paasfees wees om te onthou, want Ek gaan verraai en gekruisig word.” Juis toe het al die belangrikste Joodse leiers in die huis van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle het allerhande planne beraam om Jesus dood te maak, maar hulle moes eers ’n rede kry om Hom te vang. Hulle wou Hom egter nie vang terwyl die paasfees aan die gang was nie. “Ons wil niks waag en dalk ’n opstand onder die mense by die fees veroorsaak nie,” het hulle gemeen. Terwyl die Joodse leiers met hierdie wraakplanne besig was, was Jesus juis in Betanië. Hy het by Simon, wat eers melaats was, gebly. Jesus-hulle was besig om te eet. ’n Vrou kom toe na Hom toe met ’n fles duur olie. Die olie was soos parfuum. Sy skud die hele fles olie oor Hom uit. Toe die ander aan die tafel sien wat sy besig was om te doen, was hulle sommer baie omgekrap. “Hou op! Jy mors die goed,” roep hulle uit. “Ons kon dit vir baie geld verkoop het. Dink net hoeveel arm mense ons daarmee kon gehelp het.” Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.” Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle. Hy antwoord hulle: “Gaan in die stad na so-en-so toe. Sê dan vir hom: ‘Jesus sê: My tyd word nou min. Ek en my dissipels sou graag hier by jou aan huis die paasete wou eet.’” Jesus se volgelinge is daar weg en het alles presies so gaan doen. Teen sononder het die paasete begin. Jesus en al twaalf sy getrouste volgelinge was daar. Terwyl hulle nog so sit en eet, sê Jesus: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê: een van julle wat hier sit, gaan My in die rug steek.” Toe hulle dit hoor, was hulle baie hartseer en hulle oorval Jesus met vrae. “Dit is seker darem nie ek nie, nie waar nie, Here?” wou elkeen weet. Jesus sê toe: “Kyk maar, die verraaier is die een wat sy hand ook in die bak insteek om kos te vat wanneer Ek dit doen. Ja-nee, aan die een kant is dit nodig dat die Seun van God sterf. Die Skrif skryf daarvan. So is dit bestem. “Maar aan die ander kant bly die verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Seun van die mens. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai, vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?” “Net so!” antwoord Jesus hom. Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.” Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.” “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê.

