Van Gebroke Na Herstel - Die Boek Nehemia预览

Van Gebroke Na Herstel - Die Boek Nehemia

43天中的第26天

Lees: Nehemia 9:1–4; Levitikus 26:39–45; 1 Johannes 1:9

SOAP: 1 Johannes 1:9

"Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."

Oordenking

Nehemia het die wet op die eerste dag van die sewende maand aan die volk voorgelees. Die volk was op daardie tydstip besig met voorbereidings om die huttefees en versoeningsdag te vier. Albei hierdie feeste was uiters belangrik om die wet te onderhou, en die volk het die voorskrifte gevolg wat God aan hulle gegee het om dit behoorlik te vier en te onthou.

Toe hulle die wet die eerste keer hoor, het hulle bewus geword van hul sonde en die oortredings van hul voorvaders. Hulle het besef hoeveel die volk as ‘n geheel van God se wet afgedwaal het en hoe hulle gesamentlik teen Hom gesondig het. Die volk het egter eers veel later in die maand behoorlik berou getoon en hul sondes aangespreek.

Die volk het uiteindelik saamgekom en hul sonde betreur. Hulle het berou getoon, God aangeroep en Hom om vergifnis gevra. Hulle het Hom aanbid en was berouvol, nie net oor hul eie sondes nie, maar ook oor die sondes van hul voorvaders wat op God die rug gedraai het. Hulle het bely hoe die volk God en sy weë verontagsaam het en onderneem om tot Hom terug te keer.

In sy wet, beloof God om sy volk te vergewe en ten volle te herstel as hulle berouvol tot Hom terugkeer. Die volk het God se gebooie gehoorsaam en berou getoon vir hul sondes en die sondes van diegene voor hulle. Hulle het as ‘n nasie berou getoon en God se guns het na Jerusalem teruggekeer, net soos Hy belowe het.

As gelowiges in Christus het ons die voorreg om die Heilige Gees te hê wat in ons woon. Wanneer Hy ons bewus maak van ons sonde en ons is oortuig, moet ons gaan stilstaan en berou toon, God aanroep en Hom aanbid. Soos die inwoners van Jerusalem, moet ons nederig genoeg wees om ons sondes teenoor God te bely. Dit gaan nie werk om verskonings te maak nie – Hy weet van ons selfsugtige denke, kwetsende woorde en liefdelose dade. Hy is ‘n getroue God wat altyd beloof om ons te verlos en te herstel wanneer ons terugkeer na Hom toe. Ons moet ywerig wees om nie ons skuld by ons hemelse Vader te laat ophoop of agterstallig raak nie, en nie toe te laat dat enige sonde ons verhouding met Hom verduister nie; ons moet dit eerder bely sodra ons daarvan bewus word. Mag Hy ons help om maklik ons sonde teenoor ander te bely wanneer ons teen hul gesondig het.

读经计划介绍

Van Gebroke Na Herstel - Die Boek Nehemia

Was jy al ooit so stukkend dat jy nie geweet het wat jy volgende moet doen nie? Ongeag of ons dit kan sien of nie, God is altyd aan die werk. Hy is die Een wat elke lewe, situasie, slegte besluit of pynlike ervaring kan herstel en beredder. Hierdie Bybelstudie oor die boek Nehemia fokus op hoe ons moet reageer wanneer ons sien hoe kragtig God in ons lewens werk.

More