Geloof Bo Volmaaktheid预览

Lees: Genesis 26:1–11
SOAP: Genesis 26:3–4
Bly 'n tyd lank hier, en Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak. Ek gee hierdie hele wêreld aan jou en jou nageslag. Ek sal die belofte nakom wat Ek met 'n eed teenoor jou vader Abraham afgelê het. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees
Oordenking
As dit vir jou voel asof jy al vantevore hierdie verhaal gelees het, is jy reg. Genesis 26:1–11 kom ooreen met die verhale in Genesis 12:10–20 en 20:1–18. In hierdie soortgelyke weergawes het die ontvanger van die belofte voor hindernisse te staan gekom wat sy geloof getoets en die belofte bedreig het.
Eerstens is daar nog ‘n droogte in die land. Op pad Egipte toe, trek Isak na Abimelek in Gerar toe. In teenstelling met Abraham se optrede, gaan Isak nie enduit tot in Egipte nie. In plaas daarvan, bly hy in die land omdat God hom beveel het om daar te bly. Isak tree in geloof op, en bly. In Isak se geloofsdaad het God die belofte herbevestig. Alles wat God belowe het om vir Abraham te doen, belowe Hy om ook vir Isak te doen. Isak sou ‘n groot nageslag hê wat die land sou bewoon en al die nasies van die aarde sou deur sy nageslag geseën word. God sou sy belofte nakom as gevolg van Abraham se geloof. Abraham het vir Isak, vir sy kinders, en vir ons die voorbeeld van geloof geword. God het Abraham aangeprys oor sy geloof en beloof om sy nageslag verder deur Isak te seën.
In die tweede bekende scenario het Isak vir Abimelek gesê Rebekka is sy suster en nie sy vrou nie. In plaas daarvan om verder in geloof op te tree, het Isak uit vrees opgetree. Selfs net nadat God bevestig het dat die belofte en seën deur Isak sou kom, het Isak uit vrees opgetree en vir Abimelek oor Rebekka gelieg. En tog, selfs nadat hy net soos sy pa misluk het, het God vir Isak, sy familie en die belofte bewaar. God is weer eens die held.
Weer eens het God ingegryp. God het toegelaat dat Abimelek vir Isak en Rebekka saam sien, en daardeur die belofte bewaar. Hoewel Isak se geloof die gevaar van die droogte dapper die hoof gebied het, het sy vrees deur sy leuens ‘n bespotting van sy en sy pa se getrouheid gemaak. Mag ons, wanneer ons voor die keuse te staan kom om te vertrou op God se voorsiening, bewaring, om ‘n pad te maak of in te gryp, in geloof reageer, nie uit vrees nie. Vrees maak ‘n bespotting van die soewereiniteit van God; geloof, daarenteen, verklaar onbeskaamd die mag van die God wat ons dien.
Gebed
Here God, dankie vir die voorbeeld van Abraham se geloof. Dankie dat U nie net voorbeelde van sterk geloof verskaf nie, maar ook voorbeelde van mense wat uit vrees gereageer het. U het aan Isak barmhartigheid en goedheid betoon toe hy misluk het, en ek weet dat U my ook genadig sal wees as ek voor vrees swig. Help my om vandag in U vertroue te hê. Amen.
读经计划介绍

Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie. Daar was talle oomblikke toe hulle dade nie met hulle geloof gestrook het nie. Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken. (Genesis 15:6)
More