PSALMS 145

145
Waardig om geprys te word
1’n Loflied van Dawid.
Ek wil U prys,
my God en my Koning,
u Naam wil ek altyd loof.
2Ek wil U elke dag loof,
en u Naam vir altyd prys.
3Die Here is groot!
Hy is waardig
om geprys te word.
Sy grootheid is onmeetbaar.
4Geslag na geslag
sal u dade prys
en van u magtige werke vertel.
5Ek sal die glans en heerlikheid
van u majesteit verkondig
en nadink oor u wonderdade.
6Mense sal praat
van u vreeswekkende dade;
hulle sal van u grootheid vertel.
7Hulle sal vertel
van u onvergeetlike goedheid;
en met vreugde sing
van u regverdigheid.
8Genadig en barmhartig
is die Here,
stadig om kwaad te word,
en ryk in liefde.
9Die Here is goed vir almal,
en barmhartig
oor sy hele skepping.
10Alles wat U geskep het,
loof U, Here,
en u getroue dienaars prys U!
11Hulle vertel van die prag
van u koninkryk;
hulle maak u groot mag bekend.
12Hulle sal aan almal vertel
van u magtige dade,
en van die glansryke majesteit
van u koninkryk.
13Want u koninkryk
is ’n koninkryk vir alle tye.
U heers geslag na geslag.
14Die Here help almal
wat geval het
en dié wat swaarkry,
tel Hy op.
15Die oë van almal
is hoopvol op U gerig;
U gee aan almal kos
op die regte tyd.
16U maak u hand oop,
en bevredig die begeertes
van al wat lewe.
17Die Here is regverdig
in al sy dade;
en getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
vir almal wat Hom
in opregtheid aanroep.
19Hy vervul die begeertes
van dié wat Hom dien;
Hy hoor hulle hulpgeroep
en red hulle.
20Die Here beskerm almal
wat Hom liefhet,
maar die goddeloses
vernietig Hy.
21Die lof van die Here
wil ek verkondig.
Alles wat leef,
sal sy heilige Naam
vir altyd prys!

Seçili Olanlar:

PSALMS 145: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz