YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 118

118
Die Here doen kragtige dade
1Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
3Die huis van Aäron moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Dié wat die Here dien, moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
5In my nood het ek na die Here geroep,
die Here het my gebed verhoor en my bevry.
6Die Here is by my, ek ken geen vrees nie;
wat kan 'n mens aan my doen?
7Die Here is by my, Hy help my:
ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8Om by die Here te skuil,
is beter as om op mense te vertrou.
9Om by die Here te skuil,
is beter as om op hoë mense te vertrou.
10Nasies het van alle kante af op my afgestorm.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
11Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
12Hulle het soos bye om my gepak,
maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
13My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk,
maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is 'n wonder in ons oë!
24Dit is die dag wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Currently Selected:

PSALMS 118: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy