YouVersion Logo
Search Icon

JUDAS 1

1
1Van Judas, 'n dienaar van Jesus Christus en 'n broer van Jakobus.
Aan dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus bewaar.
2Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!
Die dwaalleraars en hulle straf
(Vgl. 2 Pet. 2:1-17)
3Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. 4Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.
5Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. 6Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. 7En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.
8En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. 9Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”
10Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang. 11Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang. 12Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. 13Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly.
14Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele 15en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.”
16Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.
Vermaning en aansporing
17Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. 18Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.”
19Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie. 20Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. 21Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.
22Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. 23Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.
Lof aan God
24Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, 25aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Currently Selected:

JUDAS 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy