1
Die dag van die Here is 'n dag van verwoesting
1Dit is die woord van die Here wat gekom het tot Joël seun van Petuel:
2Luister hierna, leiers van die volk,
gee aandag, al die inwoners van die land!
Het so iets al in julle tyd gebeur
of in dié van julle voorvaders?
3Vertel dit aan julle kinders,
en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel,
en dié weer aan húlle nageslag!
4Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie,
word deur 'n volgende opgevreet;
wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n derde,
en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n vierde.
5Word nugter, dronkaards, en huil;
kla oor die wyn
wat julle nie meer sal kry nie, al julle wynsuipers!
6'n Volk trek op teen my land;
die volk is sterk en sonder getal;
sy tande is soos dié van 'n leeu,
sy kakebene soos dié van 'n leeumannetjie.
7Hy het my wingerd verwoes,
my vyeboom afgebreek,
dit kaalgestroop en laat lê;
die lote se bas is afgevreet.
8Julle moet rou soos 'n bruid rou oor haar bruidegom.
9Die graanoffer en die drankoffer is weggeneem
uit die huis van die Here.
Die priesters wat in die diens van die Here staan, treur.
10Die weiding is weggevreet,
die veld treur.
Die koringoes is weggevreet,
van die wyn het daar niks gekom nie;
die olyfolie het verdwyn.
11Julle moet verslae staan, saaiboere,
oor die koring en die gars,
want die oes op die land is tot niet.
Kla, vrugteboere,
12die wingerd het verdor;
die vyeboom staan verdroog,
die granaat, die dadel en die appel,
ja, al die bome in die boord het verdor.
Daar het 'n einde gekom aan die vreugde van die mense.
13Trek rouklere aan, treur, priesters!
Kerm, julle wat diens doen by die altaar!
Dra julle rouklere selfs snags,
julle wat in die diens van my God is:
die graanoffer en die drankoffer is weggeneem
uit die huis van julle God.
14Bepaal 'n vasdag, roep die gemeente bymekaar,
bring die leiers en al die inwoners van die land
na die huis van die Here julle God toe.
Roep tot die Here!
15Die vreeslike dag!
Die dag van die Here is naby:
dit is 'n dag van verwoesting,
dit kom van die Almagtige af.
16Voor ons oë is ons kos weggevat;
blydskap en gejuig het uit die huis van ons God verdwyn.
17Die saad lê verskrompel onder die kluite,
die graanskure lê verlate,
die skure lê afgebreek,
want die koringoes het misluk.
18Die vee bulk en blêr:
die troppe beeste dwaal rond,
want hulle het niks om te vreet nie,
ook die kleinveetroppe kry swaar.
19Ek roep tot U, Here,
want 'n vuur het die weiveld verteer,
'n brand het al die bome in die veld weggebrand.
20Die diere in die veld wag op uitkoms van U af,
want die spruite het opgedroog,
'n vuur het die weiveld verteer.
Loading reference in secondary version...