YouVersion Logo
Search Icon

JOB 27

27
Job: Watter hoop het die godlose?
1Job het voortgegaan en gesê:
2“So seker as God leef, Hy wat my reg van my af weggeneem het,
die Almagtige wat my die bitter lyding aangedoen het:
3so lank as daar lewe in my is,
so lank as die asem van God in my is,
4sal ek niks sê wat verkeerd is nie
en sal daar geen onwaarheid uit my mond kom nie.
5Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie:
tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is.
6Ek bly daarby dat ek reg het, ek sal daarvan nie afsien
en my my lewe lank daaroor verwyt nie.
7Mag dit met my vyande gaan soos met die goddeloses,
met my teëstanders soos met dié wat onreg doen.
8Watter hoop het die godlose as sy lewe afgesny word,
as God sy lewe opeis?
9Sal God sy hulpgeroep hoor
as rampe hom oorval?
10Vind hy vreugde in die Almagtige?
Roep hy God altyd weer aan?
11Ek wil julle iets leer
oor die mag van God;
wat by die Almagtige is,
sal ek nie verberg nie.
12Julle het dit tog almal al gesien,
waarom dan die sinlose gepraat?
13“Dit is die lot wat God uitmeet vir die goddeloses,
dit is wat die geweldenaars ontvang van die Almagtige.
14Hoe baie hulle kinders ook al is,
hulle is vir die swaard bestem,
hulle nakomelinge sal altyd honger ly.
15Dié wat van hulle oorbly, sal deur die pes verteer word,
en hulle weduwees sal nie oor hulle treur nie.
16Al hoop hulle hulle geld op soos stof,
en al is hulle klere so volop soos klei,
17wat hulle bymekaargemaak het,
sal deur die regverdiges gedra word,
en onskuldiges sal die goddeloses se geld onder mekaar verdeel.
18Die goddelose se huis is tydelik, soos 'n kokon vir 'n mot,
soos 'n skerm wat deur 'n wagter gebou is.
19Die goddelose gaan slaap as ryk man,
maar hy doen dit nie weer nie:
as hy sy oë oopmaak, is alles weg.
20Die angs oorval hom soos 'n vloed,
'n orkaan voer hom weg in die nag.
21Die oostewind lig hom op, en weg is hy,
dit waai hom weg uit sy plek.
22Dit storm op hom af sonder genade,
hy moet vlug vir die geweld van die wind.
23Die wind klap sy hande van blydskap
terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.”

Currently Selected:

JOB 27: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy