YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 12

12
1Die manne van Efraim is vir oorlog opgeroep en het deur die Jordaan getrek na Safon toe. Hulle het vir Jefta gaan sê: “Waarom het jy alleen opgetrek om teen die Ammoniete te gaan veg? Waarom het jy ons nie opgeroep om saam met jou te gaan nie? Ons gaan jou huis bokant jou kop afbrand.”
2Jefta het hulle geantwoord: “Ek en my manskappe was in 'n ernstige stryd gewikkel met die Ammoniete, en ek het julle hulp ingeroep. Maar julle het my nie uit hulle mag kom red nie. 3Toe ek merk daar is niemand wat my kom red nie, het ek my lewe gewaag en teen hulle opgetrek. Die Here het hulle in my mag oorgegee. Waarom kom julle nou teen my oorlog maak?”
4Jefta het toe al die manne van Gilead opgeroep en teen Efraim oorlog gemaak, en die manne van Gilead het vir Efraim verslaan. Die mense van Efraim het altyd vir hulle gesê: “Julle mense van Gilead is weglopers uit Efraim en Manasse.”
5Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer 'n Efraimitiese vlugteling sê: “Ek wil deurgaan,” sê hulle vir hom: “Jy is 'n Efraimiet.” As hy sê: “Nee, ek is nie,” 6sê hulle vir hom: “Sê 'n bietjie: Sjibbolet,” maar dan sê hy: “Sibbolet,” want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood. In daardie tyd het daar twee en veertig duisend man van Efraim gesneuwel.
7Jefta was ses jaar lank 'n leier van Israel. Jefta die Gileadiet het gesterf, en hy is begrawe in een van die stede in Gilead.
Ibsan, Elon en Abdon
8Na Jefta was Ibsan uit Betlehem die leier van die Israeliete. 9Hy het dertig seuns en dertig dogters gehad. Hy het sy dogters met mans laat trou wat nie aan sy stam behoort het nie, en vir sy seuns het hy dertig vrouens van buite sy stam af laat kom. Hy was sewe jaar lank leier van die Israeliete. 10Ibsan het gesterf, en hy is begrawe in Betlehem.
11Na hom was Elon uit Sebulon leier van die Israeliete, tien jaar lank. 12Elon uit Sebulon het gesterf, en hy is begrawe in Ajalon in die Sebulongebied.
13Na hom was Abdon seun van Hillel uit Piraton leier van Israel. 14Hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad. Hulle het op sewentig donkies gery. Hy was ag jaar lank leier van die Israeliete. 15Abdon seun van Hillel uit Piraton het gesterf, en hy is begrawe in Piraton op Amalekberg in die Efraimgebied.

Currently Selected:

RIGTERS 12: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy