YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 5

5
Wat kan Ek nog vir my wingerd doen?
1Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet,
ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.
2Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde wingerdstokke.
Hy het 'n wagtoring daarin gebou
en 'n parskuip uitgekap.
Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly.
3En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.
4Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het
terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?
5Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word.
6Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid.
Ek sal die wolke verbied om daarop te reën.
7Die wingerd van die Here die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.
Ellende wag vir die volk van die Here
8Ellende wag vir julle wat huis na huis inpalm,
die een plaas na die ander in die hande kry,
totdat daar geen plek vir ander oorbly nie
en net julle grondeienaars in die land is.
9Ek het die Here die Almagtige 'n eed hoor neem:
Die baie huise, so groot en mooi, sal murasies word,
sonder bewoners.
10'n Wingerd waaraan tien dae lank geploeg word,
sal net een mandjie druiwe oplewer,
en 'n sak saad net een kruik vol graan.
11Ellende wag vir dié wat vroeg in die môre opstaan
om agter sterk drank aan te loop
en hulle tot laataand dronk te drink aan wyn.
12Daar is liere en harpe,
tamboeryne, fluite, en wyn by hulle fuifpartye.
Maar van wat die Here doen, neem hulle geen notisie nie,
sy dade sien hulle nie raak nie.
13Omdat my volk My nie wil ken nie,
sal hulle in ballingskap weggevoer word.
Volk en leiers sal saam van honger sterf,
omkom van dors.
14Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle,
hy sper sy bek groot oop.
Daarin sak die vooraanstaandes en die gewone burgers weg,
die hele rumoerige gepeupel.
15So word mense verneder
en kom hulle tot 'n val.
So kom hoogmoed tot 'n val.
16Die Here die Almagtige is verhewe,
Hy laat reg geskied;
die heilige God laat Hom ken as die Heilige,
Hy oordeel regverdig.
17Op die puinhope sal lammers wei
asof hulle op hulle eie weiveld is,
skape sal rustig daar vreet.
18Ellende wag vir dié wat hulle deur afgodsdiens
vaswoel in die bande van ongeregtigheid,
wat verstrik raak in die kettings van sonde.
19Hulle sê: “Hy moet gou maak,
Hy moet sy werk gou doen dat ons dit kan sien!
Wat die Heilige van Israel wil doen,
moet gou gebeur dat ons dit kan weet.”
20Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg,
wat van duisternis lig maak en van lig duisternis,
wat bitter soet noem en soet bitter.
21Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag,
wat dink hulle het baie verstand.
22Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery,
dapper by die meng van hulle drank,
23wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld,
maar 'n onskuldige sy reg ontneem.
24Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word
en hooi in vlamme opgaan,
so sal dit met hulle gaan.
Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word,
want hulle het hulle nie gesteur
aan die openbaring van die Here die Almagtige nie,
hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp.
25Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk.
Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref,
sodat die berge gebewe het
en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het.
Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie
en bly sy hand uitgesteek teen hulle.
26Uit die verte versamel Hy 'n nasie onder sy vaandel,
Hy roep hulle na Hom toe uit 'n ver land.
Hulle kom gou en vinnig.
27Niemand is moeg nie, nie een struikel nie,
nie een is traag of aan die slaap nie.
Geen gordel hang los nie,
geen skoenriem is stukkend nie.
28Hulle pyle is skerp, al hulle boë gespan,
hulle perde se pote is hard soos klip.
Die wiele van hulle strydwaens draai soos warrelwinde.
29Hulle brul soos leeus,
soos sterk jong leeus
wat brul en hulle prooi bespring
en dit wegsleep sonder dat iemand dit kan afvat.
30Daardie dag sal die vyand aangestorm kom
met 'n gedreun soos dié van die see.
As 'n mens na die land kyk,
sal daar benouende duisternis wees,
die lig sal verdwyn voor die donker wolke.

Currently Selected:

JESAJA 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy