YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 38

38
Die brandofferaltaar
(Vgl. Eks. 27:1-8)
1Besaleël het 'n brandofferaltaar van doringhout gemaak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. 2Aan die vier hoeke het hy horings gemaak en dit het 'n eenheid met die altaar gevorm. Hy het die altaar met brons oorgetrek. 3Hy het al die gereedskap vir die altaar van brons gemaak: potte, skoppe, komme, vurke en vuurpanne. 4Hy het 'n bronstraliewerk om die altaar gemaak en dit onder die rand van die altaar vasgesit, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. 5Hy het vier ringe gegiet vir die vier kante van die bronsrooster om die draaghoute deur hulle te steek. 6Hy het draaghoute van doringhout gemaak en met brons oorgetrek. 7Die draaghoute is deur die ringe gesteek aan weerskante van die altaar om dit mee te dra. Die altaar is van plank gemaak, in die vorm van 'n kas.
Die bronswaskom
(Vgl. Eks. 30:17)
8Besaleël het 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk gemaak van bronsspieëls wat gekom het van die vroue wat by die deur van die tent van ontmoeting werk.
Die voorhof
(Vgl. Eks. 27:9-19)
9Hy het ook 'n voorhof gemaak. Aan die suidekant, die regterkant daarvan, was gordyne van goed geweefde linne, vyftig meter breed. 10Om die gordyne te hang, was daar twintig style met twintig bronsvoetstukke, en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke. 11Ook aan die noordekant was daar gordyne, vyftig meter breed, twintig style met kramme, en silwergordynstokke en twintig bronsvoetstukke. 12Aan die westekant was daar ook gordyne, vyf en twintig meter breed, tien style met kramme, en silwergordynstokke, en tien voetstukke.
13Die voorkant, die oostekant, was vyf en twintig meter breed en 14die gordyne was elkeen sewe en 'n half meter breed met drie style en drie voetstukke. 15Aan weerskante van die deur van die voorhof was die gordyne sewe en 'n half meter breed, met drie style en drie voetstukke. 16Al die gordyne rondom die voorhof was van goed geweefde linne. 17Die voetstukke vir die style was van brons, hulle kramme en gordynstokke van silwer. Hulle kopstukke was met silwer oorgetrek. Al die style van die voorhof het silwergordynstokke gehad. 18Die afskorting in die ingang van die voorhof was tien meter breed en net soos die gordyne van die voorhof was dit twee en 'n half meter hoog. Dit was van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne, netjiese borduurwerk. 19Daar was ook nog vier style met bronsvoetstukke, en silwerkramme. Die style se kopstukke was met silwer oorgetrek, en die gordynstokke was van silwer. 20Al die penne rondom die tabernakel en rondom die voorhof was van brons.
Die gebruikte materiaal
21Hier volg die hoeveelhede van die materiaal wat gebruik is om die tabernakel waarin die getuienis was, op te rig. Dit is in opdrag van Moses bereken deur die Leviete wat gewerk het onder leiding van Itamar seun van die priester Aäron. 22Onder leiding van Besaleël seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda, is alles gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 23Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, het hom gehelp. Oholiab was 'n vakman en 'n ontwerper en 'n wewer van blou, pers en bloedrooi wolstof en van linne.
24Die hoeveelheid goud wat uit die spesiale bydrae ingekom het, en wat gebruik is vir al die werk aan die heiligdom, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was duisend en twee kilogram.
25Die silwer afkomstig van die volk wat vroeër getel is, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was drie duisend vier honderd sewe en veertig kilogram. 26Volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit ongeveer ses gram per kop vir elkeen van twintig jaar en ouer wat vroeër getel is: daar was toe ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man. 27Daar is drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram silwer gebruik vir die giet van die voetstukke vir die style van die heiligdom en sy afskortings. Uit die drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram is honderd voetstukke gegiet, vier en dertig en 'n kwart kilogram per voetstuk. 28Daar is twintig kilogram silwer gebruik vir die kramme en gordynstokke van die style, asook vir die oortrek van die kopstukke.
29Die brons wat deur die spesiale bydrae ingebring is, was twee duisend vier honderd ses en twintig kilogram. 30Hiervan is gemaak die voetstukke vir die style van die deur van die tent van ontmoeting, die bronsaltaar met sy bronstraliewerk, al die gereedskap van die altaar, 31die voetstukke rondom die voorhof, die voetstukke van die ingang van die voorhof, al die penne van die tabernakel en al die penne rondom die voorhof.

Currently Selected:

EKSODUS 38: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy