YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 37

37
Die ark
(Vgl. Eks. 25:10-22)
1Besaleël het die ark van doringhout gemaak: een en 'n kwart meter lank, 'n driekwart meter breed en net so hoog. 2Hy het dit binne en buite met suiwer goud oorgetrek en 'n goue lys rondom vasgesit. 3Hy het vier goue ringe gegiet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit is, sodat daar twee ringe aan elke kant was. 4Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. 5Die draaghoute is deur die ringe aan weerskante van die ark gesteek om die ark daarmee te dra.
6Daarna het hy die deksel van suiwer goud gemaak, een en 'n kwart meter lank en 'n driekwart meter breed. 7Hy het twee gerubs van geslae goud gemaak, een links en een regs op die deksel. 8Hy het die gerubs aan weerskante van die deksel so gemaak dat hulle 'n eenheid met die deksel gevorm het. 9Hulle vlerke was uitgesprei oor die deksel, sodat hulle dit bedek het. Die gerubs se gesigte was na mekaar toe en hulle het afgekyk op die deksel.
Die tafel vir die offerbrood
(Vgl. Eks. 25:23-30)
10Besaleël het 'n tafel van doringhout gemaak. Sy lengte was een meter, sy breedte 'n half meter en sy hoogte 'n driekwart meter. 11Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en 'n goue lys rondom vasgesit.
12Hy het 'n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel gesit en daarrondom 'n goue lys vasgesit. 13Hy het vier goue ringe vir die tafel gegiet en dit aan die vier hoeke vasgesit, regoor die vier pote. 14Die ringe was naby die band sodat die draaghoute deur hulle gesteek kon word om die tafel mee te dra. 15Hy het die draaghoute waarmee die tafel gedra moes word, van doringhout gemaak en hulle met goud oorgetrek. 16Hy het die toebehore vir die tafel van suiwer goud gemaak: skottels, panne, kanne en komme om die drankoffer mee uit te giet.
Die kandelaar
(Vgl. Eks. 25:31-40)
17Hy het ook 'n kandelaar van suiwer goud gemaak. Die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare is van geslae goud gemaak sodat dit alles een geheel was. 18Daar was ses arms aan die stam, drie aan elke kant. 19Daar was drie blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar. So was dit vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak.
20Vir die kandelaar se hoofstam was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare. 21Onder elke paar arms van die kandelaar was daar 'n knop. 22Die knoppe en die arms was alles een stuk, een stuk suiwer geslae goud.
23Besaleël het sewe lampies gemaak vir die kandelaar. Die pithouers en bakkies van die kandelaar is van suiwer goud gemaak. 24Al hierdie voorwerpe is uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak.
Die wierookaltaar
(Vgl. Eks. 30:1-5)
25Besaleël het 'n wierookaltaar van doringhout gemaak. Dit was 'n half meter in die vierkant en een meter hoog. Die altaar en sy horings was 'n eenheid. 26Hy het die bokant, die sye rondom en die horings met suiwer goud oorgetrek. Besaleël het 'n goue lys rondom die altaar vasgesit. 27Verder het hy twee goue ringe vir elke kant gemaak en dit aan weerskante, teenoor mekaar, onderaan die lys vasgesit om die draaghoute waarmee die altaar gedra moes word, daardeur te steek. 28Hy het die draaghoute van doringhout gemaak en hulle met goud oorgetrek. 29Hy het ook die gewyde salfolie en die geurige, rein wierook gemeng soos 'n bekwame vakman dit doen.

Currently Selected:

EKSODUS 37: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy