YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 2

2
Moses se geboorte en opvoeding
1'n Man uit die stam Levi was met 'n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en 'n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom 'n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.
5'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.
7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u 'n vrou gaan roep, 'n Hebreeuse vrou met 'n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”
8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”
Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.
9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”
Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”
Moses slaan 'n Egiptenaar dood
11Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word. 12Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap.
13Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het.
14“Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?”
Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword.
15Toe dit by die farao uitkom, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon.
Terwyl hy daar by 'n put sit, 16het die sewe dogters van 'n priester van Midian kom water skep om die drinkbakke vol te maak en hulle pa se kleinvee te laat suip. 17Toe daar veewagters aankom en die dogters wegjaag, het Moses opgestaan en hulle gehelp en hulle kleinvee laat suip.
18Met hulle aankoms by hulle pa Reüel het hy gevra: “Hoe het julle dan vandag so gou gekom?” 19en hulle antwoord: “Daar was 'n Egiptenaar, en hy het ons gehelp teen die veewagters. Boonop het hy vir ons water geskep en die kleinvee laat suip.”
20Toe vra die priester vir sy dogters: “Waar is hy? Waarom het julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.”
21Moses het ingewillig om by Reüel te kom woon, en is later met sy dogter Sippora getroud. 22Toe sy 'n seuntjie kry, het Moses hom Gersom genoem, “want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.”
God hoor die Israeliete se geroep om hulp
23Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.

Currently Selected:

EKSODUS 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy