YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 11

11
Joas word koning oor Juda
(Vgl. 2 Kron. 22:10 – 24:3)
1Toe Ahasia se ma Atalia hoor haar seun is dood het sy begin om die hele koningsgeslag uit te roei. 2Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van Ahasia, het egter vir Joas, 'n seun van Ahasia, stilletjies weggevat tussen die prinse wat doodgemaak sou word. Sy het hom en sy oppasster in 'n slaapkamer weggesteek vir Atalia, sodat hy die dood vrygespring het. 3Hy is ses jaar by Jehoseba in die huis van die Here weggesteek, en in dié tyd het Atalia die land geregeer. 4In die sewende jaar het die priester Jojada boodskappe gestuur na die Kariërs se bevelhebbers oor honderd en na dié van die hardlopers, en hulle na hom toe in die huis van die Here laat kom. Daar het hy met hulle 'n verbond gesluit. Nadat hy hulle in die huis van die Here 'n eed laat aflê het, het hy hulle die koning se seun gewys. 5Hy het hulle beveel: “'n Derde van julle, van dié wat op die sabbat kom diens doen, moet wagstaan by die wagpos van die paleis. 6'n Derde moet by die Surpoort en 'n derde by die poort agter die hardlopers wagstaan. Julle moet om die beurt by die tempel wagstaan. 7Die twee afdelings van julle wat op die sabbat van diens af gaan, moet die koning in die huis van die Here bewaak. 8Julle moet rondom die koning wees, elkeen met sy wapens in die hand. Enigeen wat in julle geledere probeer inkom, moet doodgemaak word. Bly by die koning oral waar hy gaan.”
9Die bevelhebbers oor honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe gevat, dié wat op die sabbat diens moes doen, sowel as dié wat klaar was met hulle diens, en na die priester Jojada toe gekom. 10Daarna het die priester die spiese en die skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel was, aan die bevelvoerders uitgedeel. 11Die hardlopers het elkeen met sy wapen in die hand om die koning gaan staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel. 12Toe het Jojada die jong koning vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. So het hulle hom koning gemaak. Hulle het hom gesalf, hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”
13Atalia het die uitroepe van die hardlopers en die volk gehoor en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar die volk bymekaar was. 14Daar sien sy toe die koning op sy plek staan soos die gebruik was, met die volksleiers en trompetblasers by hom en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad, verraad!”
15Die priester Jojada beveel toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was: “Bring haar tussen julle uit en maak elkeen dood wat agter haar aankom.”
Die priester het gesê: “Sy mag nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.”
16Hulle het haar gegryp en haar deur die Perdepoort na die paleis toe gevat en haar daar doodgemaak. 17Toe het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here, die koning en die volk, dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook tussen die koning en die volk 'n verbond tot stand laat kom.
18Daarna het al die burgers van die land na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan. Die priester Jojada het opsigters oor die huis van die Here aangestel. 19Hy het die bevelhebbers oor honderd, die Kariërs, die hardlopers en al die burgers van die land geneem om die koning van die huis van die Here af deur die Hardloperspoort na die paleis toe te bring. Daar het die koning op die troon gaan sit.
20Al die burgers van die land was bly. Die stad was weer rustig. Hulle het vir Atalia in die paleis doodgemaak.
21Joas was sewe jaar toe hy koning geword het.

Currently Selected:

2 KONINGS 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy