YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 6

6
Die eerste vier seëls: vier perde
1Ek het toe gestaan en kyk hoe die Lam een van die sewe seëls breek waarmee die boek verseël was. Juis toe hoor ek een van die vier lewende wesens sê: “Kom!” Dit het geklink soos donderweer wat slaan. Ek het gekyk. 2Sowaar, daar het ’n wit perd aangekom. Die ruiter het ’n oorlogswapen by hom gehad. Iemand het vir hom ’n kroon gegee soos die gewoonte was om vir iemand te gee wat gewen het. Hy het verder gery op ’n pad van oorwinning. Sy doel was om te wen en dit het hy gedoen.
3Die Lam het toe die tweede seël gebreek. Ek het gehoor hoe die tweede lewende wese sê: “Kom!” 4’n Ander perd kom toe daar aan. Dié perd was rooi. Die ruiter is toegelaat om onrus op aarde te veroorsaak. Nêrens was daar meer behoorlik vrede nie. Mense het mekaar eenvoudig uitgewis. Vir dié ruiter is ’n lang swaard gegee om mense in die oorlog mee dood te maak.
5Toe die Lam die derde seël breek, hoor ek die derde lewende wese sê: “Kom!” Ek het weer rondgekyk. Soos verwag kon word, het daar weer ’n perd aangekom. Dié perd was swart. Die ruiter het ’n skaal vasgehou waarmee kos geweeg is. 6Ek hoor toe iemand uit die rigting van die vier lewende wesens sê: “’n Ou handjie vol meel vir ’n hele dag se werk of drie hande vol perdekos. Die duur kos soos olie en wyn sal julle nie kan bekostig nie; net die rykes sal!”
7Met die oopmaak van die vierde seël hoor ek die vierde lewende wese sê: “Kom!” 8Hierdie keer het ek ’n perd met so ’n vaal doodskleur aangehardloop sien kom. Die ruiter se naam was “Die Dood”. In sy spore het die hel gevolg. Hy is toegelaat om ’n kwart van die aarde onder sy mag te kry. Daar was dit net moord en doodslag. Wie nie met swaarde doodgekap is nie, is van honger dood. Wie nog oorgebly het, is deur verskriklike siektes afgemaai of deur wilde diere verskeur.
Die vyfde seël: Hoe lank nog?
9Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie. 10Hulle het hard geskree sodat almal kon hoor: “O, hoe lank nog, grote Heerser? U is anders as mense en U is die bron van alle waarheid. Wanneer gaan U die mense straf wat so sleg lewe? Wanneer gaan U hulle laat betaal omdat hulle ons doodgemaak het?” 11God gee toe vir elkeen van hulle die duurste en pragtigste wit klere; klere wat ’n mens vir ’n belangrike geleentheid nodig het. “Wees nog ’n rukkie rustig,” sê God. “Moenie oorhaastig wees nie. Al julle mede-Christene wat God met soveel oortuiging saam met julle dien, is nog nie hier nie. Hulle moet nog eers soos julle vir God sterf.”
Die sesde seël: oordeel
12Ek sien toe dat die Lam die sesde seël breek. Die aarde het geweldig begin skud en bewe. Asof iemand ’n pikswart doek oor die son gegooi het, het die son se strale verdwyn. Die maan was so ’n rooi kleur, net soos bloed.13Sterre het uit die hemel op die aarde gereën. Dit het gelyk soos blare wat in die herfs van ’n boom afval as ’n mens dit kwaai skud. 14Die blou hemel is soos ’n pannekoek opgerol. Selfs die eilande en berge is heen en weer geskud en rondgegooi. Die mense het vir al wat hulle werd is, gehardloop en in grotte en klowe in die berge gaan wegkruip. 15Dit maak nie saak wie nie, almal moes hardloop: groot leiers, generaals, rykes, sterkes, werkers, gewone mense, almal. Uit die klowe en grotte kon ’n mens die geroep hoor. 16Die mense daar het die berge en rotse uit angs gesmeek: “Val asseblief op ons. Begrawe ons. Steek ons weg vir God wat oor alles heers. Ja, steek ons weg sodat ons nie hoor hoe kwaad die Lam vir ons is nie.” En kan ’n mens hulle kwalik neem? 17Die dag waarop hulle finaal deur God veroordeel gaan word, lê voor die deur. Nie ’n enkele een sal kan ontsnap nie.

Currently Selected:

Openbaring 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy