YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 73

73
Van Asaf
1God is goed vir almal wat doen wat Hy sê. Vir seker!
2Maar op ’n dag het ek begin twyfel of dit regtig so is.
Ek het amper ophou glo, 3want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig.
En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers op hulle.
4Niks bekommer hulle nie. Hulle is spekvet en gesond.
5Hulle is oor niks besorg nie. Hulle het geen moeilikheid nie.
6Hulle loop ewe trots rond. Want met hulle gewere en hulle vuiste los hulle al hulle probleme op.
7Hulle is vet, en hulle doen net wat hulle wil.
8Hulle het g’n respek vir iemand nie. Hulle spot met mense en dreig almal. 9Selfs God loop onder hulle tonge deur. En op aarde beledig hulle links en regs.
10Almal hang aan hulle lippe. Mense kan nie genoeg van hulle kry nie.
11Hulle sê vir almal:
“God is vas aan die slaap. Wat weet die Allerhoogste van wat ons doen?”
12Hulle kom weg met moord! Niemand keer hulle nie terwyl hulle al meer geld maak.
13Ek het verniet gedoen wat God sê.
Tevergeefs dat ek onskuldig is.
My gebede het niks gehelp nie.
Dit was ’n mors van tyd,
14want elke nuwe dag het daar ’n vrag vol nuwe probleme op my gewag.
Daar was geen einde aan my swaarkry nie.
Ek is elke dag soos ’n vloerlap behandel.
15Maar wag! As ek aanhou praat soos nou, sal ek ’n verraaier wees.
Ek sal al u kinders verraai, Here!
16Ek het mooi probeer dink, maar ek kon nie verstaan hoekom ek so moes ly nie.
17Totdat ek op ’n dag in u heilige plek ingestap het.
Toe het ek skielik die volle prentjie gesien: ek het besef waar goddeloses uiteindelik beland.
18Ek het besef dat slegte mense op ’n baie gladde pad stap.
Op ’n dag laat U hulle planne skeefloop, dan beland hulle in die gemors.
19In ’n oogwink verander hulle lewe in chaos. Hulle kom tot ’n verskriklike einde.
20Hulle verdwyn so vinnig soos ons drome wanneer ons wakker word.
Here, U vee slegte mense in ’n oogwink uit die pad uit.
21Toe ek kwaad vir U was en gevoel het dat U my verontreg, 22was ek baie dom, net soos ’n dier sonder verstand. Ek het my onnosel voor U gedra.
23Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie.
U het my nog nooit alleen gelos nie. U hou my hand elke dag vas.
24U sal my op die pad lei waarop U wil hê ek moet loop.
Later sal U ook vir my ’n plek daar by U gee.
25Here, daar is niemand so belangrik soos U in die hemel nie, ook nie hier op aarde nie.
U is my hele lewe. Ek wil niks anders as U hê nie.
26Al gee my kragte in en al sit ek op moedverloor se vlakte: U, God, is steeds my krag.
U is die Rots by wie ek altyd wegkruip. Ek behoort aan U vir altyd.
27Kyk net: almal wat U verwerp, gaan dood; U skryf hulle af.
28Maar ek geniet dit om dag na dag by God te wees.
Ek kruip by die Here my God weg.
Die lewende Here is my huis.
Ek vertel vir almal hoe goed U is.

Currently Selected:

Psalms 73: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy