YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 22

22
1Vir die musiekleier se aandag:
’n Dawidspsalm met die wysie “Die wildsbok van die dagbreek”
2My God, my God, waarom los U my heeltemal alleen?
U help my nie.
Ek skree totdat ek blou word, maar U is weg.
3My God, ek roep U heeltyd; ek hou nie op met bid nie, heeldag en heelnag lank, maar van U is daar geen teken nie.
U is doodstil.
4U is die Een wat baie belangrik en groot is.
U kinders het groot respek vir U.
U is waar hulle U loof.
5Ons oupas en oumas het op U vertrou.
Hulle het U vertrou en U het hulle nie in die steek gelaat nie. U het hulle gehelp.
6Hulle het tot U gebid. Toe bevry U hulle.
Op U het hulle vertrou en U het hulle nie teleurgestel nie.
7Maar ek voel nie meer soos ’n mens nie.
Ek is soos ’n wurm tussen ’n klomp stinkende dooies.
Mense trek die neus op en sien op my neer. Hulle spot my.
8Elkeen wat my sien, lag my uit;
hulle trek gesigte, steek vir my tong uit en skud die kop.
9Dan sê hulle: “Siestog, die Here moet die arme drommel maar help. Hy sal hom miskien uit sy moeilikheid help, want Hy hou mos van hom.”
10Here, U gee al lankal vir my om, van my geboorte af.
Ek was doodtevrede en gelukkig toe my ma my aan haar bors laat drink het.
11Reeds van die begin van my lewe af behoort ek aan U. U is my God van my geboorte af. U sorg vir my.
12Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe.
U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit.
Daar is niemand om my te help nie.
13Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere.
Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm.
14Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom.
Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur.
Ek het geen krag meer oor nie.
15Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand.
Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar.
Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks.
16Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is.
17Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak.
Van alle kante het hulle gekom om op my te trap.
Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie.
Hulle het my hande en voete stukkend gesteek.
18Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai.
As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede.
19Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel.
20U moet my tog nie alleen los nie, Here!
U alleen gee my krag.
Kom help my baie gou!
21Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie.
Ek het net een lewe.
Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie.
22Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet.
Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel.
23U het my uit my nood gered!
In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat.
Voor die gemeente sal ek U loof en prys.
Ek sal U voor almal prys.
24Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het!
25Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie.
Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep.
26Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing.
Almal moet dit hoor.
Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom.
Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien.
27Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees.
Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee.
Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys.
Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop.
Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe.
28Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is.
Hulle sal hulle lewe vir Hom gee.
Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien.
Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig.
29Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde.
30Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee.
Hulle sal kom om Hom te dien en te eer.
Alle mense sal voor Hom kniel.
31Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel.
So sal die nageslagte van Hom weet.
Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.
32Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.
Dit is net die Here wat mense red.

Currently Selected:

Psalms 22: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy