YouVersion Logo
Search Icon

Nahum 1

1
1Die Here se straf oor Nineve. Nahum kom van die dorp Elkos af. Wat nou volg, is wat die Here wou hê hy vir Juda moes sê.
Die Here is magtig en goed
2Die Here hou niks daarvan dat mense ander gode aanbid nie. Dit maak Hom baie kwaad. Daarom straf Hy mense wat teen Hom in opstand kom. Hy wreek Hom ook op sy teëstanders deur hulle te straf. 3Die Here word nie gou kwaad nie, maar dit beteken nie dat sy mag nie groot is nie. Hy laat nie mense wat verkeerde dinge doen, wegkom nie. Nee, Hy straf hulle.
Hy gebruik winde wat warrel en storms wat kwaai woed om te wys dat Hy baie mag het. Dit wys die Here is daar. Die wolke wat saamdrom, lyk dan soos stof wat sy voete opskop. 4Hy wys ook sy mag deur net ’n opdrag te gee en die see en die riviere droog op. Hy laat ook die groen weiding op groot berge droog word en op ander berge weer laat Hy die bloeisels verwelk. 5As die berge begin bewe en die heuwels wegsmelt, weet ’n mens duidelik die Here bestaan. Dit is soos ’n aardbewing wat die aarde en sy mense skud. 6’n Mens kan vra of enigiemand sal kan oorleef as Hy kwaad is. Dit is nie speletjies as Hy kwaad is nie. Sy woede is so erg, dit is soos ’n vuur wat rotse laat bars en in stukke breek.
7Die Here is goed. As swaar tye kom, is ’n mens veilig by Hom. Hy sorg vir mense wat wys dat hulle Hom vertrou.
8Maar as mense teen die Here in opstand kom, sal Hy hulle vir altyd laat verdwyn. Dit sal wees asof ’n vloed water hulle weggespoel het en hulle in die donkerte verdwyn.
Nineve maak die Here kwaad
9Watse planne is julle besig om teen die Here te maak? Daar sal niks van kom nie, want Hy sal dit dadelik dooddruk. Daar is nie eers ’n moontlikheid vir die vyand om ’n tweede keer in opstand te kom nie. 10Die vyand is soos ’n groen bos met baie digte dorings. Dit laat ’n mens dink dat jy nie aan hom kan raak of deur hom kan kom nie. Maar al is dit so, sal die Here hulle soos droë strooi verbrand. 11Dit is die slegte koning van Nineve wat bose planne teen die Here uitdink.
12Maar hoor wat sê die Here: “Die Assiriërs is baie sterk en hulle het die beste wapens. Hulle is ook baie mense. Maar al is dit so, hulle sal vernietig word en soos mis voor die son verdwyn. Vroeër het Ek my volk verneder deur hulle aan die lot van hulle vyande oor te laat, maar Ek sal dit nie weer doen nie. 13Ek sal sorg dat die Assiriërs nie langer oor julle baasspeel nie. Ek sal die houvas wat hulle op julle het, verbreek.”
14Die Here het ook die volgende oor Assirië te sê: “Jy sal nie kinders hê wat jou naam sal laat voortleef nie. Verder sal Ek ook die beelde van julle gode wat in julle tempels is, vernietig. Dit is nou die beelde wat met die hand gekerf is en ook dié wat met ’n vorm gegiet is. Ek het ook klaar reggemaak vir julle begrafnis, want julle is niks werd nie.”
15Kyk, ’n boodskapper wat die goeie nuus bring dat ons nou vry is, is reeds op pad hierheen. Hy laat nie eens berge in sy pad staan om die goeie nuus te kom oordra nie: “Mense van Juda, die tyd het nou gekom dat julle weer julle feeste kan vier en julle beloftes kan nakom! Julle bose vyande uit Nineve sal julle land nie weer inval nie, want hulle is heeltemal verslaan.”

Currently Selected:

Nahum 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy