YouVersion Logo
Search Icon

Josua 18

18
Die res van die land word verdeel
1Toe die land uiteindelik onder die Israeliete se beheer was, het hulle ’n volksvergadering by Silo gehou en ook die tabernakel daar opgeslaan. 2Saam met hulle was die sewe stamme wat nog nie hulle deel van die land in besit geneem het nie. 3Toe vra Josua vir die Israeliete: “Hoe lank gaan julle nog wag om die gebied wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, julle eie te maak? 4Kies nou drie persone uit elkeen van hierdie stamme, dan stuur ek hulle om vir my ’n opname van hierdie gebied te gaan maak. 5Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Dit sluit die suidelike deel uit wat aan Juda behoort; ook die noordelike deel waar Josef se kinders bly.
6“Hulle moet vir my die grense van die sewe gedeeltes bring sodat ek die verdeling hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. 7Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.”
8Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.” 9Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. 10Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel.
Benjamin se gebied
11Die eerste stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Benjamin. Dit was die gebied tussen die gedeeltes van Juda en Josef. 12Hulle noordelike grens het by die Jordaan begin en loop dan al met die hang noord van Jerigo langs. Dan draai dit weswaarts oor die bergagtige gebied tot in die Bet-Awenwoestyn. 13Van daar af loop die grens suid na Lus toe (ook bekend as Bet-El) en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder. 14Dan draai die grens in ’n westelike rigting, suid van die berg reg teenoor Bet-Goron totdat dit doodloop by Kirjat-Baäl, ook bekend as Kirjat-Jearim. Hierdie stad het aan Juda behoort. Dit is die westelike grens.
15Die suidelike grens van Benjamin het by Kirjat-Jearim begin, van waar dit weswaarts afgeloop het in die rigting van Neftoag se waterbronne. 16Dan af na die voet van die berg wat uitkyk oor die vallei van Ben-Hinnom aan die noordekant van die vallei van Refaïm. Van daar af gaan dit af met die Hinnomvallei tot teen die hang suid van die stad van die Jebusiete tot by En-Rogel. 17Hier draai die grens weer noord in die rigting van En-Semes totdat dit uitkom by Gelilot, regoor die pas van Adummim. Hiervandaan gaan dit af in die rigting van die gedenkklip van Bohan die seun van Ruben. 18Dan loop die grens noord van die hang wat oor die Jordaanvallei uitkyk verby en dan af in die Jordaanvallei, 19verby die noordelike hang van Bet-Gogla, totdat dit doodloop by die noordelike punt van die Dooie See waar die Jordaan in dié see invloei. 20Die oostelike grens is die Jordaan. Dit is die grense van die gebied wat aan die families van die stam van Benjamin behoort het.
21Die stede wat aan die families in die stam van Benjamin behoort het, is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal, 22Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, 23Awwim, Para, Ofra, 24Kefar-Ammoni, Ofni en Geba, twaalf stede met hulle omliggende dorpe, 25asook Gibeon, Rama, Beërot, 26Mispa, Kefira, Mosa, 27Rekem, Jirpeël, Tarala, 28Sela, Elef, die stad van die Jebusiete, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat, altesaam veertien stede met hulle omliggende dorpe. Dit is die stede en die gebied wat die families van Benjamin se stam geërf het.

Currently Selected:

Josua 18: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy