YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 65

65
God se onverstaanbare liefde
1Ek was bereid om die gebede te verhoor van mense wat nog nie eens tot My gebid het nie. Ek was reg dat hulle My in die hande kon kry as hulle maar net na My wou soek. Ek sou vir ’n volk sê wat nie eens tot My wil bid nie: Hier is Ek!
2Ek het die hele dag uitgereik na ’n volk wat net hulle eie kop wil volg. Hulle volg hulle eie verkeerde koers. 3Hulle tart My sonder ophou uit. Hulle slag diere om in groen parke te offer. Hulle brand offers op plat rotse. 4Hulle gaan bly tussen die grafte en slaap in grotte om die geeste te aanbid. Hulle eet moedswillig varkvleis. Daar is vleis wat vir die afgode geoffer word in hulle borde. 5Hulle sê: “Bly weg van my af. Moenie aan my raak nie. Ek is soos ’n god vir jou.”
Ek kan sulke mense nie verdra nie. Hulle irriteer My.
Ter wille van hulle wat getrou gebly het
6My besluit staan vas. Ek gaan dit nie uitstel nie. Ek gaan hulle straf. Ek gaan vir hulle gee wat hulle verdien. 7Ek gaan hulle terugbetaal vir alles wat hulle gedoen het, sê die Here, vir al hulle en ook hulle ouers se oortredings. Hulle het bo-op die berge wierook gaan offer vir die gode. Hulle het My beledig met hulle afgodsoffers wat hulle bo-op die heuwels gebring het.
8Maar so sê die Here: Ter wille van hulle wat vir My leef, sal Ek hulle nie almal vernietig nie. Ek sal maak soos iemand wat aan ’n druiwetros nog bruikbare korrels kry.
Hy sê: “Moenie dit weggooi nie, daar is nog korrels aan wat ons kan gebruik.” 9Ek sal vir Jakob kinders laat oorbly. Daar sal uit Juda mense oorbly wat die berggedeeltes sal erf. Die mense wat Ek vir My uitkies, sal die land besit. Hulle wat vir My lewe, sal daar gaan woon. 10Die volk wat My aanbid, sal hulle skape in die Saronvlakte kan laat wei. Hulle sal beeste in die Akorlaagte aanhou.
Sommige aangeneem en ander verwerp
11Maar party van julle het mos van die Here af weggegaan. Julle het die Here se tempel uit julle gedagtes weggeskuif. Julle aanbid eerder die geluksgod en die noodlotsgod. 12Ek het besluit dat julle almal doodgemaak sal word. Julle sal almal tereggestel word. Ek het na julle geroep, maar julle het nie gereageer nie. Ek het met julle gepraat, maar julle wou nie luister nie. Julle het aangegaan om alles te doen wat vir My verkeerd is. Julle het verkies om die dinge te doen wat My nie aanstaan nie.
13Omdat dit gebeur het, sê my Heer, die Here, sal hulle wat aan My getrou gebly het, hulle versadig eet. Maar julle sal honger bly. Hulle sal genoeg hê om te drink. Julle sal dors bly. Hulle sal vrolik wees en julle sal treurig wees. 14Hulle sal van blydskap sing, terwyl julle van hartseer kreun. 15Julle name sal vloekwoorde word vir hulle wat aan My behoort. Die Here sal julle uitroei. Hy sal nuwe name gee vir dié wat aan Hom getrou gebly het. 16Elkeen in die land wat vir voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou bly. Elkeen wat ’n eed aflê, sal dit doen in die Naam van die God op wie ’n mens kan staatmaak. Die probleme wat daar vroeër was, sal iets van die verlede wees. Dit sal vergeet word.
’n Nuwe skepping
17Kyk, Ek gaan ’n hemel en aarde maak wat heeltemal nuut is. Niemand sal meer aan die ou een dink nie. Niemand sal daarna terugverlang nie. 18Julle moet juig en sonder ophou bly wees oor wat Ek gaan doen. Ek gaan Jerusalem ’n plek van blydskap maak waarin mense bly wat gelukkig en tevrede is. 19Ek gaan vreugde hê aan Jerusalem. Ek gaan bly wees oor die mense wat daar woon. Daar sal nooit weer in die stad iemand gehoor word wat huil of iemand wat treur nie. 20Kinders sal nie daar doodgaan terwyl hulle nog babatjies is nie. Ou mense sal eers op ’n ryp ouderdom doodgaan. As iemand doodgaan voordat hy 100 jaar oud is, sal dit as ’n straf gesien word.
21-22Hulle sal huise bou wat hulle nie hoef af te staan nie, maar waarin hulle self kan bly. Hulle sal wingerde aanplant waarvan hulle nog in hulle eie leeftyd druiwe kan pluk. Hulle sal so lank leef soos ’n boom. Hulle wat Ek vir My gekies het, sal nog die vrug kan geniet van dit wat hulle gemaak het. 23Hulle sal hulle nie hoef besig te hou met dinge wat geen voordeel bring nie. Hulle sal nie kinders vir die ongeluk grootmaak nie. Die Here sal hulle en hulle kinders voorspoedig maak. 24Ek sal vir hulle gee waarvoor hulle bid, selfs nog voor hulle daarvoor gevra het. Terwyl hulle nog besig is om te bid sal Ek reeds na hulle gebed geluister het. 25Die wolwe en die lammetjies sal saam eet in die veld. Leeus sal gras vreet soos beeste. Slange sal van stof leef. By my tempel, sê die Here, sal niemand seergemaak word of enigiets beskadig word nie.

Currently Selected:

Jesaja 65: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy