YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 23

23
’n Boodskap oor Tirus
1Die Here se boodskap om Tirus se straf aan te kondig: Huil, matrose van Tarsis wat van die ver lande af op pad is terug huis toe, want Tirus, julle veilige hawe, is verwoes. Die gerugte wat julle in Siprus gehoor het, is waar. 2Sidon se kusbewoners en handelaars is stomgeslaan van die skok. Hulle het verteenwoordigers in alle rigtings oor die see gestuur om handel te dryf. 3Hulle het graan uit Egipte uit ingevoer van die vrugbare Nylgebied af en dit dan weer aan die ander nasies teen ’n wins verkoop. 4Laat sak jou kop in skaamte, Sidon, jy wat ’n groot hawestad was. Nou is jy die een wat sê: “Ek het nooit kinders, seuns of dogters, in die wêreld gebring of grootgemaak nie.” 5Vir die Egiptenaars sal die nuus oor Tirus ’n geweldige skok wees.
6Vaar terug Tarsis toe en huil, julle wat langs die kus bly. 7Hoe kan hierdie grafstil puinhoop al wees wat oor is van die stad wat altyd feesgevier het? Is dit die stad met die roemrykste geskiedenis van al die nedersettings wat hulle oor die hele wêreld gevestig het? 8Wie het hierdie ramp oor Tirus gebring? Tirus het tog koninkryke opgebou, sy handelaars is soos prinse behandel, hulle was van die mees gerespekteerde mense in die wêreld. 9Dit is die Here die Almagtige wat dit gedoen het om hulle hoogmoed oor hulle prestasies te breek en om sy ongelukkigheid met hulle vername handelaars en hulle verwaandheid te wys.
10Vir die inwoners van Tarsis bly daar net een moontlikheid oor as hulle wil oorleef, en dit is om te begin om hulle lande te bewerk en self te boer, want die hawe is tot niet. 11Die Here het sy hand oor die see uitgesteek om die koninkryke van die aarde te skud. Hy het die opdrag gegee dat die handelstede van die Fenisiërs verwoes moet word. 12Hy sê: Jou dae van feesvier is vir altyd verby. Jy was op jou tyd ’n pragtige stad vol lewe, maar daardie tyd is verby. Jy was ’n magtige stad, maar nou kry jou mense swaar. Selfs al vlug hulle Siprus toe, sal hulle nie veilig wees nie. 13Dit is die Babiloniërs wat Tirus gaan vernietig en nie die Assiriërs nie. Hulle sal vestingwalle bou om oor die stad se mure te klim en al die paleise daarin afbreek sodat die stad soos ’n puinhoop sal lyk. Die enigste inwoners wat sal oorbly, is die woestyndiere wat tussen die puin sal loop en snuffel. 14Julle moet treur, matrose, want die stad waarop julle altyd staatgemaak het, is verwoes.
15Vir 70 jaar, die leeftyd van ’n koning, sal Tirus vergete lê. Na hierdie tyd sal dit met Tirus gaan soos die lied oor die prostituut sê: 16“Vat jou harp en stap deur die stad, jou arme vergete prostituut! Sing en speel mooi liedjies sodat die mans jou weer kan onthou.”
17Na die 70 jaar om is, sal die Here Tirus weer laat herleef. En die stad sal weer handel dryf soos voorheen en weer sakevennote oor die hele wêreld hê. 18Maar hierdie keer sal al die handelswinste vir die Here gegee word. Dit sal nie weer opgegaar en gebêre word nie. Uit hierdie winste sal kos en klere gekoop word vir die mense wat die Here dien en aanbid.

Currently Selected:

Jesaja 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy