YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 21

21
’n Visioen oor die val van Babel
1Die Here se boodskap om Babel se straf aan te kondig: Soos warrelwinde wat oor die Negevwoestyn aangewaai kom, so kom daar invallers van die woestyn se kant af uit ’n land waarvoor almal bang is. 2Ek het ’n skrikwekkende visioen gesien, ’n visioen van verwoesting en verraad. Elam, julle moet aanval! Medië, julle moet die stede beleër! Die Here gaan ’n einde maak aan al die swaarkry wat Babel veroorsaak het. 3Die goed wat ek gesien het, is so angswekkend dat my hele liggaam inmekaartrek soos ’n vrou wat besig is om te kraam. 4My kop draai en my keel trek toe van vrees. My rustige slaap is iets van die verlede, ek lê in die nag wakker en bewe van angs. 5Kyk na Babel, hulle dek sowaar nog tafels om fees te vier en gooi matte op die vloer waarop die feesgangers kan sit. Offisiere, kry eerder julle wapens slaggereed vir die oorlog!
6Die Here het my die opdrag gegee om ’n wag uit te sit sodat hy kan rapporteer wat hy sien en hoor. 7As hy strydwaens en perderuiters met troppe donkies en kamele sien aankom, moet hy hulle fyn dophou. 8Toe het die wag uitgeroep: “Meneer, ek het dag en nag op my pos in die wagtoring gebly. 9Kyk, uiteindelik kom daar strydwaens en perderuiters aangery. Skielik skree iemand: Babel het geval, en al die afgode van Babel lê in stukkies op die grond!” 10O, my volk wat so stukkend getrap lê soos graan wat op die dorsvloer uitgetrap word, alles wat ek vir jou gesê het, is wat ek by die Here die Almagtige, die God van Israel, gehoor het.
’n Boodskap oor Edom
11Die Here se boodskap om Edom se straf aan te kondig: Van Edom af roep iemand na die wag en vra: “Wag, wanneer breek die dag? Wanneer is die nag verby?”
12Die wag antwoord: “Die môre is amper hier, maar die nag kom weer. As jy weer ’n keer wil kom vra, kom vra gerus.”
’n Boodskap oor Arabië
13Die Here se boodskap om Arabië se straf aan te kondig: Julle handelaars van Dedan, gaan kruip weg in die woestyn van Arabië. 14Mense van Tema, gee vir die vlugtelinge kos en water. 15Want hulle het vir die geweld van die oorlog gevlug omdat hulle met swaarde en pyle en boë aangeval is. 16Maar dit het die Here vir my gesê: “Oor presies ’n jaar, en dit gaan nie ’n maklike jaar wees nie, sal Kedar sy magtige posisie verloor. 17Selfs van sy dapper soldate wat sulke goeie boogskutters is, sal daar min oorbly.” Ek het gepraat, sê die Here, die God van Israel.

Currently Selected:

Jesaja 21: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy