YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 8

8
God gaan ’n nuwe ooreenkoms met sy mense aan
1Wat ek wil sê, is dit: ons het die wonderlikste Hoëpriester denkbaar.
Hy sit op die ereplek langs die magtige God self.
2In die heilige plek waar God is, is Jesus besig om as Hoëpriester vir ons te doen wat vir ons nodig is om ook by God te wees. Dis nie mense wat God se heilige blyplek gebou het nie, maar God self het dit gedoen.
3Die eintlike werk wat ’n hoëpriester moet doen, is om namens mense vir God geskenke en offers te gee. Jesus moes daarom ook iets hê om te offer. 4As Hy maar net ’n gewone mens op aarde was, sou Hy nie eens ’n priester kon wees nie, want daar was al priesters. Die wet sê mos presies wie op aarde ’n priester mag wees en wie nie. 5Hierdie priesters werk egter in ’n heilige plek op aarde wat in vergelyking met die hemelse heilige plek maar net soos ’n skaduwee is. Die aardse een is maar soos ’n tekening van die werklike een in die hemel. Toe Moses die heilige plek vir die Israeliete in die woestyn reggemaak het, het God dit mos duidelik vir hom gesê: “Maak doodseker dat jy alles presies so maak soos Ek dit vir jou op die berg gewys het toe jy by My was.” 6Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dít wat God beloof het soveel beter is.
God sal ons foute oorsien
7As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was. 8Luister wat het Hy gesê: “Die tyd sal kom wanneer Ek ’n nuwe ooreenkoms met die mense van Israel en Juda sal maak. 9Dit sal heeltemal anders wees as die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslagte gemaak het. Ek praat van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het toe Ek hulle veilig uit Egipte uitgelei het. Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai.”
Dit het die Here gesê. Maar die Here het verder gegaan: 10“Ek sal in die toekoms ’n nuwe ooreenkoms met my mense maak. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak. Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees. 11Dit sal nie meer vir hulle nodig wees om onder mekaar te sê nie: ‘Jy moet meer erns maak om die Here te leer ken.’ Hulle almal sal My persoonlik ken, klein en groot. 12Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie.”
13As God so praat oor die nuwe ooreenkoms, beteken dit mos dat die ou ooreenkoms verby is. As dit verby is, hoef ’n mens jou mos nie meer daaraan te steur nie. Net ’n rukkie, dan dink mense nie meer daaraan nie.

Currently Selected:

Hebreërs 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy