YouVersion Logo
Search Icon

Ester 3

3
Haman se komplot om die Jode uit te roei
1’n Ruk hierna het koning Ahasveros ’n man met die naam Haman tot eerste minister bevorder. Hy was tweede in bevel van die land, net onder die koning self. Haman was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. 2Op bevel van die koning moes al sy paleisamptenare voor Haman buig om hulle respek vir hom te wys. Almal van hulle het dit gedoen, behalwe Mordegai. Hy het geweier. 3Die ander amptenare wou toe by Mordegai weet waarom hy weier om die koning se bevel te gehoorsaam.
4Hulle het elke dag met hom daaroor gepraat. Toe hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle vir Haman daarvan vertel. Hulle wou sien of Haman iets daaraan sou doen, want Mordegai het intussen vir hulle vertel dat hy ’n Jood is. 5Haman was woedend toe hy agterkom dat Mordegai nie respek het vir hom nie. 6Daarom het hy besluit om nie net vir Mordegai te straf nie, maar om sommer al die Jode in die Persiese ryk uit te roei. 7In die eerste maand van koning Ahasveros se twaalfde regeringsjaar, dit is die maand Nisan, het Haman opdrag gegee dat hulle lootjies moes trek (of soos hulle dit genoem het, Purim) om ’n geskikte datum te kry waarop hulle die Jode kon uitroei. Hulle het toe op 7 Maart van die volgende jaar besluit.
8Haman sê toe vir die koning: “Daar is ’n sekere volk wat reg deur u ryk in al die provinsies versprei is. Hulle gebruike en gewoontes verskil van al die ander volke s’n. Om die waarheid te sê, hulle weier selfs om u wette te aanvaar. Ek dink nie dit is in u beste belang om hulle so te laat aangaan nie. 9As u dit goedvind, vaardig ’n koninklike bevel uit dat hulle uitgeroei moet word. As u dit doen, sal ek 342 ton silwer vir die ontvangers van inkomste gee om in die koning se skatkis te sit.”
10Die koning het ingestem, sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman, die vyand van die Jode, gegee. Hy was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. 11“Hou die geld,” het hy gesê, “en doen met die Jode net wat jy wil.”
12Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan. Die briewe is in die naam van koning Ahasveros geskryf en met sy seëlring verseël as ’n teken dat die briewe eg was. 13Die briewe is toe deur boodskappers na elke provinsie toe geneem met die opdrag om al die Jode uit te roei, oud en jonk, vroue en kinders, almal voor die voet. Hierdie slagting is beplan vir 7 Maart die volgende jaar. Diegene wat die Jode doodgemaak het, het ook die reg gehad om al hulle besittings vir hulleself te vat. 14Elke provinsie moes ’n afskrif van die brief kry sodat almal dit kon lees en reg kon wees op die beplande dag. 15Op die koning se bevel is die brief in die hoofstad, Susan, gelees. Daarna is die boodskappers haastig met die briewe weg na die provinsies toe. Die koning en Haman het dit toe met ’n drankie gaan vier, maar die stad self was verbaas en verward hieroor.

Currently Selected:

Ester 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy