1
1-2Die volgende verhaal het in die tyd van koning Ahasveros van Persië afgespeel. Uit sy paleis in Susan het hy oor 127 provinsies regeer, wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië. 3In sy derde jaar as koning het hy ’n groot fees gehou vir al sy hoë amptenare en ander werknemers. Die weermagoffisiere van Persië en Medië was daar, asook ander uitgesoekte gaste en die regeerders van die provinsies. 4Ses maande lank het hy met sy rykdom en indrukwekkende koninkryk gespog. 5Daarna het die koning almal in die stad Susan ’n week lank in die paleistuin onthaal. Dit het nie saak gemaak of hulle belangrik was of nie, ryk of arm, almal is uitgenooi. 6Die binnehof was baie mooi versier. Blou en wit linnedoeke is met pers linte aan silwerringe teen die marmerpilare vasgemaak. Goue en silwerrusbanke is oral in die binnehof neergesit op plaveisel van baie kosbare stene en klippe. 7Die wyn is in goue bekers bedien wat ryklik versier was. Die koning het ook gesorg dat daar nie ’n tekort aan wyn uit sy kelder was nie. 8Die enigste reël wat by die koning se fees gegeld het, was dat niemand gedwing moes word om meer of minder te drink as wat hy wou nie. Die paleispersoneel moes elkeen toelaat om self te besluit.
9Terselfdertyd het koningin Vasti ook die vroue in die paleis onthaal.
Koningin Vasti bly by haar beginsels
10Op die sewende dag van die onthaal het die koning, wat toe al redelik dronk was, sewe van sy paleisbeamptes geroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas. 11Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te bring. Die koningin was ’n pragtige vrou en die koning wou graag by al sy hoë amptenare en gaste met haar skoonheid spog.
12Toe die beamptes vir koningin Vasti gaan sê dat sy na die koning toe moet kom, het sy geweier. Dit het die koning woedend gemaak. 13Hy het toe, soos sy gebruik in moeilike situasies was, raad gevra by sy adviseurs wat al die Persiese wette en gebruike geken het. 14Die persone by wie hy die meeste van die tyd raad gevra het, was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan, die sewe hoofamptenare van Persië en Medië. Hulle het direkte toegang tot die koning gehad en ook die belangrikste posisies in sy koninkryk beklee. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek, koning Ahasveros, het my amptenare na koningin Vasti toe gestuur met ’n opdrag, en sy het geweier om dit uit voer! Wat moet ons volgens die wet met haar doen?”
Koningin Vasti word afgesit
16Toe sê Memukan vir die koning en sy hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net die koning beledig nie, maar ook elke amptenaar en elke mens in die koninkryk. 17Sodra die vroue hiervan hoor, sal hulle almal begin neersien op hulle mans. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het koningin Vasti beveel om na hom toe te kom en sy het geweier.’ 18Voor hierdie dag verby is, sal die vooraanstaande vroue van Persië en Medië van die optrede van die koningin hoor en presies net so met hulle mans begin praat. Dit sal die mans baie kwaad maak. 19U moet dalk daaraan dink om ’n koninklike bevel te gee dat Vasti nie meer by u welkom is nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse sodat dit nie herroep kan word nie. Soek dan vir u ’n ander koningin wat haar beter as Vasti sal gedra. 20Wanneer hierdie bevel van die koning dan oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal al die vroue weer hulle mans, of hulle nou belangrik of onbelangrik is, met respek behandel.”
21Die koning en sy hoë amptenare het van Memukan se voorstel gehou en besluit om dit te doen. 22Die koning stuur toe ’n amptelike brief na elke provinsie wat onder sy beheer was. Dit was in hulle eie taal geskryf sodat hulle dit kon verstaan. In hierdie brief het hy opdrag gegee dat elke man die leiding moet neem in sy huis en dat hy die finale sê het.
Loading reference in secondary version...
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.