YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 1

1
1Ek, Paulus, wat spesiaal deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf.
Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat in Christus Jesus glo. 2Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee soos net Hulle kan.
God het ’n spesiale plan vir ons gemaak
3Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus, te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons - wat eintlik niks was nie - baie belangrik kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is vir ’n mens om te hê. 4Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie. 5Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie - Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur. 6Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur. 7Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is. 8Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles.
9-10Daarom het Hy besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy, toe die tyd ryp was, besluit het om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was. Dit was eintlik eers net God se geheim, wat mense glad nie verstaan het nie. Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet. Ja, Hy sal alles - of dit nou in die hemel is of op die aarde - bymekaarbring soos dit met die skepping bedoel was, en Jesus sal oor alles regeer. 11God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê. 12Ons was mos die eerste mense wat alles aanvaar het wat Jesus beloof het en wat seker weet dat ons dit gaan kry. God wil hê dat juis ons vir almal moet wys en vertel hoe groot en belangrik Hy regtig is. 13Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat van die goeie boodskap oor Jesus wat julle red. Daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy beloof het. 14Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee.
Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is.
Mag julle net beter Christene word
15Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so. 16Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. 17Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak. 18Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak.
19-21Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie.
22-23God self het vir Jesus die magtige posisie gegee om oor alles en almal te heers, ook oor die kerk. Jesus is die leier van die kerk en die kerk moet daarom gehoorsaam doen wat hulle leier van hulle verwag. Laat ek ’n voorbeeld gebruik: Jesus is soos die kop en die kerk soos die res van die liggaam. Saam is hulle een. Die kop beheer die liggaam en laat sy invloed deur die hele liggaam vloei. Die kop sorg vir alles wat elke deeltjie van die liggaam nodig mag hê. En die liggaam, die kerk, laat die kop, Jesus, volledig wees wat Hy is.

Currently Selected:

Efesiërs 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy