2 Tessalonisense 2:8-13

2 Tessalonisense 2:8-13 DB

Dan sal daardie goddelose mens sy opwagting maak. Natuurlik sal die Here Jesus persoonlik met hom afreken. Wanneer Hy terugkom na die wêreld toe, sal Hy hierdie goddelose figuur met een asemteug wegblaas. Sy glans en glorie is genoeg om hierdie wettelose mens in ’n oogwink te vernietig. Tot by die wederkoms sal hierdie goddelose figuur met al sy bose planne besig wees. Sy krag kom direk van Satan af. Daarom sal hy in staat wees om groot wonders en vals tekens te doen. Hierdie goddelose figuur sal dit gebruik om mense te mislei. Hy sal almal wat hulle rug vir God gedraai het, aanspoor om die vieslikste sondes te doen. Dit gebeur omdat hulle die kans van ’n leeftyd deur hulle vingers laat glip het om in Christus te glo en sy verlossing te ervaar. God sal hulle toelaat om agter hierdie dwalings aan te hardloop sodat hulle al hierdie leuens uit die hel glo. Die uiteinde van almal wat weier om in die waarheid te glo en wat gekies het om hulle aan al wat sonde is oor te gee, is God se verskriklike straf. My liewe broers en susters, ek sê altyd vir God oor en oor dankie vir julle. Die Here het julle baie lief. En dis nie net lippetaal nie: God het julle al spesiaal uitgesoek om in Hom te glo. Julle is van die heel eerste mense wat tot geloof in Christus gekom het. Julle geloof is die gevolg van die Gees se werk in julle lewens. Hy het julle opsy gesit vir Homself. Daarom glo julle die waarheid.
DB: Die Boodskap
Share