YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 44

44
Hulpgeroep van die martelaarsgemeente.
1VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing.
2 o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: 'n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.
3U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit.
4Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U 'n welbehae in hulle gehad het.
5 U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob.
6Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan.
7Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie;
8maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.
9In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.
10En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie.
11U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus.
12U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.
13 U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie.
14U maak ons 'n smaad vir ons bure, 'n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.
15U maak ons 'n spreekwoord onder die nasies, 'n hoofskudding onder die volke.
16My skande is die hele dag voor my, en die skaamte van my aangesig oordek my;
17weens die stem van die smader en lasteraar, weens die blik van die vyand en wraakgierige.
18Dit alles het oor ons gekom, en tog het ons U nie vergeet en nie bedrieglik gehandel teen u verbond nie.
19Ons hart het nie agteruitgewyk nie, en ons gange het van u pad nie afgebuig nie,
20alhoewel U ons verbrysel het in 'n plek van jakkalse en ons met 'n doodskaduwee oordek.
21As ons die Naam van onse God vergeet het en ons hande uitgebrei het na 'n vreemde god —
22sou God dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart.
23Maar om U ontwil word ons die hele dag gedood; ons word gereken as slagskape.
24Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie!
25Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?
26Want ons siel is in die stof neergebuig; ons buik kleef aan die aarde.
27Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil!

Currently Selected:

PSALMS 44: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy