YouVersion Logo
Search Icon

FILÉMON 1

1
Opskrif, seëngroet en danksegging.
1PAULUS, 'n gevangene van Christus Jesus, en die broeder Timótheüs, aan Filémon, die geliefde en ons mede-arbeider,
2en aan Áppia, die geliefde suster, en aan Archíppus, ons medestryder, en aan die gemeente wat in jou huis is:
3 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
4 Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink,
5 omdat ek van jou liefde en geloof hoor, wat jy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges het,
6dat die gemeenskap van jou geloof kragtig mag word deur die kennis van alles wat goed in julle is, tot eer van Christus Jesus.
7Want ons het groot blydskap en troos oor jou liefde, omdat deur jou, broeder, die harte van die heiliges verkwik is.
Paulus pleit vir die bekeerde slaaf, Onésimus, wat van sy heer weggeloop het.
8DAAROM, al het ek baie vrymoedigheid in Christus om jou te beveel wat betaamlik is,
9pleit ek liewer ter wille van die liefde. Ek, Paulus, as 'n ou man en nou ook 'n gevangene van Jesus Christus,
10pleit by jou vir my kind, Onésimus, wat ek verwek het in my boeie,
11wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my. Ek stuur hom terug;
12maar neem jy hom, dit is my eie hart, aan.
13Ek wou hom by my hou, sodat hy my in die boeie van die evangelie in jou plek kan dien.
14Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse.
15Want miskien is hy om hierdie rede 'n tydjie van jou geskei, dat jy hom vir altyd kan besit,
16 nie meer as 'n slaaf nie, maar méér as 'n slaaf, as 'n geliefde broeder in die vlees sowel as in die Here, veral vir my, hoeveel te meer vir jou.
17As jy my dan vir 'n metgesel hou, neem hom aan net soos vir my.
18En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op mý rekening —
19ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe: ek sal betaal — om nie te sê jou rekening nie, want jy is daarby jou eie persoon ook aan my verskuldig.
20Ja, broeder, mag ek tog van jou voordeel trek in die Here! Verkwik my hart in die Here.
21In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê.
Persoonlike mededeling. Groete en heilwense.
22EN berei tegelykertyd ook herberg vir my, want ek hoop dat ek op julle gebede aan julle sal geskenk word.
23 Épafras, my medegevangene in Christus Jesus, groet jou;
24ook Markus, Aristárchus, Demas en Lukas, my mede-arbeiders.
25 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees! Amen.

Currently Selected:

FILÉMON 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy