YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 25

25
Die triomf.
1HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.
2Want U het van 'n stad 'n hoop klippe gemaak, van 'n versterkte vesting 'n puinhoop; 'n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie.
3Daarom sal 'n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees.
4Want U was 'n vesting vir die arme, 'n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; 'n skuilplek teen die stortreën, 'n skaduwee teen die hitte — want die geblaas van die tiranne is soos 'n stortreën teen 'n muur.
5Soos hitte in 'n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van 'n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.
6En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.
7En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.
8 Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek.
9En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.
10Want die hand van die Here sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van 'n miskuil.
11En as hy sy hande daarin uitsprei soos 'n swemmer dit uitsprei om te swem, dan sal Hy sy trotsheid afdruk tegelyk met die kunsgrepe van sy hande.
12En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom tot op die grond, tot in die stof.

Currently Selected:

JESAJA 25: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy