YouVersion Logo
Search Icon

Joël 2

2
Die dag van die Here kom nou
1Julle moet die ramshoring
blaas en hard skree
op my gewyde berg Sion.
Almal wat in die land woon,
moet bewe,
want die dag van die Here
kom nou, die dag is naby.
2Dit sal daardie dag
baie donker wees,
die wolke sal swart wees.
Die sprinkane
sal soos baie en sterk soldate
oral op die berge wees
en hulle sal alles donker maak.
Soos die lig in die oggend
oor die berge kom,
so sal die sprinkane
oral op die berge wees.
Daar was nog nooit
so baie sprinkane nie
en daar sal nooit weer
so baie wees nie.
3Waar die voorste sprinkane vreet,
lyk dit of 'n vuur alles afbrand,
en wanneer die agterste sprinkane
weggaan, dan is die veld so kaal
soos wanneer dit afgebrand het.
Voordat die sprinkane kom,
lyk die veld soos 'n baie mooi tuin,
en wanneer hulle weggaan,
dan lyk die veld soos 'n woestyn.
Niks kan daar lewe nie.
Daar bly niks oor nie.
4Die sprinkane lyk soos perde,
hulle hardloop soos vinnige perde.
5Hulle raas soos wanneer
oorlogkarre oor die berge jaag,
hulle raas soos wanneer kaf
in 'n vuur brand,
soos wanneer baie soldate
aankom om oorlog te maak.
6Al die volke bewe
wanneer die sprinkane kom,
almal skrik,
en hulle gesigte word bleek.
7Die sprinkane hardloop
soos soldate wat kom oorlog maak,
hulle klim bo-oor die stad se mure.
Elkeen gaan reguit vorentoe,
hy draai nie links of regs nie.
8Hulle stamp nie teen mekaar nie,
elkeen loop op sy eie pad.
Die mense gooi baie sprinkane
met klippe dood,
maar die ander sprinkane
staan nie stil nie.
9Hulle hardloop in die stad in,
hulle hardloop oor die mure,
hulle klim teen die huise op,
hulle klim soos diewe
deur die vensters.
Dit is die Here self wat die sprinkane bring
10Wanneer die sprinkane kom,
dan bewe die aarde
en skud die hemel.
Dan word die son
en die maan donker,
en die sterre skyn nie meer nie.
11Dit is die Here self
wat die sprinkane bring.
Die sprinkane is sy soldate,
en Hy roep hulle om te kom.
Hulle is baie soldate
en hulle is sterk,
en hulle almal luister na Hom.
Ja, die dag van die Here
is 'n vreeslike dag!
Dit is 'n verskriklike dag,
niemand sal lewe
wanneer daardie dag verby is nie.
12Maar die Here sê daar is nog tyd.
Hy sê:
“Julle moet terugkom na My toe.
Julle moet My altyd dien,
julle moet net vir My dien.”
Skeur julle harte
Julle moet vas en huil en treur.
13Moenie net vir mense wys
julle is jammer nie,
wys dit vir die Here.
Moenie net julle klere
skeur nie, skeur julle harte.
Julle moet terugkom
na julle God die Here toe,
want Hy is genadig en goed
vir mense wat swaarkry.
Hy is geduldig en vol liefde.
Hy vergewe mense se sonde maklik.
14Miskien sal Hy
julle sonde vergewe
en julle weer seën.
Dan sal daar weer koring-offers
en drank-offers wees
vir julle God die Here.
15Julle moet die ramshoring
blaas op Sionsberg.
Julle moet 'n dag
aan die Here wy,
en almal moet op daardie dag vas.
Julle moet al die mense roep
om bymekaar te kom.
16Julle moet
die mense bymekaarmaak
en die gemeente wy,
julle moet
al die mense bymekaarmaak,
die mense wat oud is, die kinders
en ook die babatjies
wat nog aan hulle ma's drink.
Die bruidegom en die bruid
moet ook uitkom
uit hulle slaapkamer.
17Die priesters moet dan
tussen die tempel
en die altaar staan
en hulle moet huil.
Die priesters, die mense
wat vir die Here werk,
moet dan bid en sê:
“Here, U moet asseblief jammer wees
vir u volk,
ons behoort aan U.
Die ander volke spot
en lag vir ons.
U moet hulle stop.
Hulle sê:
‘Waar is daardie mense se God?
Hoekom help Hy hulle nie?’ ”
Ek sal julle help
18Die Here is baie lief vir sy land.
Hy was jammer vir sy volk.
19Die Here het vir sy volk gesê:
“Ek stuur vir julle
al die koring en wyn
en olyf-olie wat julle nodig het.
Ek sal julle help.
Die ander volke sal julle
nie weer spot nie.
20Die sprinkane het julle aangeval
soos julle vyande
wat altyd van die noorde kom.
Maar Ek sal die sprinkane wegvat,
ver weg van julle.
Ek sal hulle wegjaag
na 'n droë land.
Niks kan daar lewe nie.
Die sprinkane wat voor is,
sal in die Dooie See val,
en die sprinkane wat agter is,
sal in die Middellandse See val.
Hulle sal vrek en stink.”
Julle moet bly wees oor julle God
Die Here sal
'n wonderwerk doen.
21Die mense van die land
moenie bang wees nie,
hulle moet bly wees en juig,
want die Here sal
'n wonderwerk doen.
22Die diere moenie bang wees nie,
want die veld waar die diere wei,
sal groen word.
Die bome sal vrugte kry,
daar sal baie vye
en druiwe wees.
23En julle, mense van Jerusalem,
julle moet juig,
julle moet bly wees
oor julle God die Here,
want Hy gee vir julle reën
op die regte tyd,
Hy gee reën vroeg in die jaar
en ook laat in die jaar,
soos Hy voorheen gedoen het.
24Die dorsvloere
sal vol koring wees,
daar sal baie wyn en olyf-olie
in die parskuipe wees.
25Die Here sê:
“Ek het vier maal sprinkane
na julle toe gestuur,
die sprinkane was my soldate
en hulle was baie.
Maar nou sal dit
weer goed gaan met julle.
26Julle sal baie kos hê,
meer as wat julle kan eet.
Julle sal die Naam
van julle God die Here prys.
Ek sal vir julle wonderwerke doen,
en die ander volke sal my volk
nooit weer spot nie.
27Julle sal weet
dat Ek by die Israeliete is,
Ek is julle God die Here,
daar is nie 'n ander God nie.
Die ander volke sal nooit weer
my volk spot nie.”
Ek sal my Gees vir die mense gee
28Die Here sê:
“Wanneer dit alles gebeur het,
dan sal Ek my Gees
gee vir al die mense.
Julle seuns en julle dogters
sal profete wees.
Die ou mense en die jong mense
sal droom
en sien wat later sal gebeur.
29Ek sal in daardie tyd my Gees
ook vir slawe en slavinne gee.
30Ek sal vir die mense
tekens wys.
Daar sal bloed op die aarde wees,
en vuur en rook in die lug.
31Die son sal donker word,
en die maan sal rooi word.
Dan sal die dag van die Here
kom,
die groot en verskriklike dag.
32Dan sal almal vry word
wat die Here aanbid.
Almal wat nog lewe,
sal vry word in Jerusalem,
op Sionsberg.”
So het die Here gesê vir die mense wat Hy geroep het.

Currently Selected:

Joël 2: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy