YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 11

11
Mense wat in God geglo het
1Dit is waar: Mense wat in God glo, is baie seker dat God die dinge sal doen wat hulle hoop. Geloof is 'n bewys van die dinge wat 'n mens nie kan sien nie. 2Ons voorouers het in God geglo, en daarom sê die Ou Testament dat God tevrede was met hulle.
3Ons wat in God glo, verstaan dat God gepraat het en só die hemel en die aarde gemaak het. 'n Mens kan party dinge nie sien nie, maar God het daardie dinge gebruik om die dinge te maak wat 'n mens kan sien.
4Abel het 'n offer gebring. Omdat Abel in God geglo het, daarom het God meer gehou van daardie offer as van Kain se offer. Abel het geglo, en daarom het God gesê dat Abel regverdig is, God het dit gesê omdat Hy tevrede was met Abel se offers. Abel het gesterf, maar hy het in God geglo, en daarom hoor ons vandag nog dat hy met ons praat oor sy geloof. 5Henog het in God geglo, en daarom het God hom weggeneem, Henog het nie gesterf nie. Daarom kon niemand vir Henog kry nie, want dit was Gód wat hom weggeneem het. Ja, voordat God vir Henog weggeneem het, het God gesê dat Hy tevrede is met Henog. 6En God sal nooit tevrede wees met 'n mens wat nie in Hom glo nie. Want 'n mens wat vir God wil dien, moet glo dat God lewe en dat God die mense beloon wat Hom wil dien. 7Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het.
8 Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. 9Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. 10Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou. 11Sara kon nooit kinders kry nie en sy was baie oud. Maar Abraham het in God geglo, en daarom het God vir hom krag gegee om pa te kan word. Abraham het geglo dat God sal doen wat Hy belowe het 12en daarom het hierdie één man 'n groot nageslag gehad. Hy was naby die dood, maar sy nageslag was so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see, 'n mens kan dit nie tel nie.
13Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie. 14Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie 'n land het waar hulle altyd kan woon nie. 15Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe. 16Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na 'n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle 'n stad gereedgemaak om in te woon.
17God het vir Abraham 'n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer. 18God het van Abraham se seun gesê: “ Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.” 19Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is 'n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe. 20Isak het in God geglo, en daarom het Isak vir Jakob en Esau geseën, Isak het hulle geseën ook oor dinge wat nog later sal gebeur. 21Jakob het in God geglo, en daarom het Jakob altwee die seuns van Josef geseën en het hy God aanbid terwyl hy oor die knop van sy kierie gebuig het. Jakob het dit gedoen terwyl hy besig was om te sterf. 22Josef het in God geglo, en daarom het Josef daaroor gepraat dat die nageslag van Israel sal terugkom uit Egipte na hulle land. Hy het dit gesê kort voordat hy gesterf het, en hy het ook gesê wat hulle ná sy dood met sy liggaam moet doen.
23Moses se ouers het in God geglo, en daarom het hulle vir Moses drie maande lank weggesteek nadat hy gebore is. Hulle het dit gedoen omdat hulle gesien het die kind is baie mooi, en hulle was nie bang vir wat die koning gesê het nie. 24Moses het groot geword en hy het in God geglo. Daarom wou hy nie hê dat mense hom die seun van die farao se dogter moet noem nie. 25Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir 'n kort tydjie die sonde te geniet nie. 26Want Moses het gedink dat wanneer mense hom beledig soos hulle later die Christus beledig het, dan is hy ryker as wanneer hy al die mooi en duur goed van Egipte sal hê, want Moses wou graag die beloning kry. 27Moses het in God geglo, dáárom het hy weggegaan uit Egipte, en nié omdat hy bang was vir die koning wat baie kwaad geword het nie. Moses het dit gedoen omdat hy was soos iemand wat vir God kon sien, ander mense kon nie vir God sien nie. 28Moses het in God geglo, en daarom het hy gesê die Israeliete moet die Paasfees vier en mense moet bloed spat teen die deure se rame sodat die engel wat mense moet doodmaak, nie die oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van die Israeliete begin doodmaak nie. 29Die Israeliete het in God geglo, en daarom het hulle deur die Rooi See gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenaars dit probeer doen het, het hulle in die see verdrink. 30Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het. 31Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie.
32Ek sal nie nog iets sê nie, dit is nie nodig nie, want dit sal baie lank neem om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete. 33Hulle almal het in God geglo, en daarom het hulle die konings van ander lande oorwin. Hulle het gedoen wat reg is, hulle het gekry wat God vir hulle belowe het. Hulle het in God geglo en daarom kon leeus nie hulle bekke oopmaak om hulle te byt nie. 34Hulle het groot vure doodgemaak, hulle het vry weggekom toe mense hulle wou doodmaak met die swaard. Hulle was swak, maar hulle het sterk geword, hulle was baie sterk soldate en hulle het die leërs van die vyande laat vlug. 35Vroue het hulle mense wat gesterf het, teruggekry uit die dood omdat God hulle weer laat lewe het. Mense het gelowiges so seer gemaak dat hulle gesterf het. Hierdie gelowiges wou nie sê dat hulle opgehou het om in God te glo nie. As hulle dit gesê het, dan sou hulle vry kon weggaan. Maar hierdie mense wat so gesterf het, het geglo dat God hulle weer sal laat lewe in 'n beter lewe. 36Mense het ander gelowiges gespot en met 'n sweep geslaan, hulle het die gelowiges ook geboei en in die tronk gesit. 37Mense het hulle met klippe doodgegooi, met 'n saag in stukke gesaag, met 'n swaard doodgemaak. Ander gelowiges het rondgeloop in klere van skaapvelle en bokvelle. Hulle het nie kos en klere gehad nie, mense het hulle laat swaarkry en het hulle baie seer gemaak. 38Hierdie mense wat in God geglo het, was te goed vir die mense van die wêreld. Hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en in grotte en gate in die grond.
39Die Ou Testament sê vir ons dat God tevrede was met al hierdie voorouers van ons omdat hulle in Hom geglo het. Maar Hy het nie vir hulle die dinge gegee wat Hy belowe het nie. 40God het dit gedoen omdat Hy 'n beter plan gehad het vir ons wat in Christus glo. God wou hê dat hulle en ons almal saam moet wees soos Hy wil hê ons moet wees.

Currently Selected:

Hebreërs 11: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy